Boorgate, kruideniersware vir boere in nood van hier

Francois Pheiffer (links) en Lucas van der Merwe (regs) van die Ziphi Nkomo Group of Companies saam met van links Andrew en Mervyn Herring en Ebon en Lizelette le Roux, die ontvangers van die twee boorgate. Foto Angelique Erasmus

Francois Pheiffer (links) en Lucas van die Merwe (regs) saam met boere wat kruideniersware ontvang het. Foto Angelique Erasmus

SAAM met die wonderlike koeler en nat weer het daar vandeesweek ook hulp vanuit Kaapstad na Oudtshoorn gekom vir boere van die omgewing.

Die Hoorn het die afgelope vier weke ’n projek saam met Lucas van der Merwe en Francois Pheiffer van die Ziphi Nkomo Group of Companies aangepak. Die maatskappy het die inisiatief geneem om hulp na Oudtshoorn te bring nadat hulle aanlyn in Die Hoorn gelees het van die droogte in Oudtshoorn en die Klein Karoo, en daarna kom kyk het wat die toestande hier is.

Hulle het besluit om fondse beskikbaar te stel vir die boor van twee boorgate en ook kruideniers­ware na Oudtshoorn gestuur.

27 aansoeke vir die boorgate is ontvang, wat na ’n onafhanklike party, Jaco en Marli Stevens van Elul Ministries, gestuur is om ses aansoeke te identifiseer waar dié hulp die meeste hoop of verligting kan bring.

Van der Merwe en Pheiffer het uit die ses die finale besluit geneem om twee boere te identifiseer wat die boorgate sal ontvang. Tien aansoeke is ook geïdentifiseer vir kruideniersware om gesinne in nood te help.

Die boorgate en kruideniersware is Dinsdagmiddag aan boere by Laerskool Laurus oorhandig.
Die boorgate sal nadat die geskikte plekke aangewys is vir water deur GJ Drilling geboor word.

Die twee wenaansoeke vir die boorgate was die van Mervyn John Herring van Moses Hope Plaas in die Warmbad en Ebon le Roux van De Denne op Rooiheuwel.

(Deur Angelique Erasmus)