Oudtshoorn is vandag en more gasheer vir meer as 70 perde, wat by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn deelneem aan ’n internasionale uithourit.
Die rit bied aan ruiters ’n 1, 2 en 3 ster FEI baan, asook verskeie afstande vir Erasa ruiters.
Vanoggend (Vrydag 19 September 2025) het die eerste perde reeds douvoordag om 03:00 weggetrek om die 160 km afstand aan te durf. Kort op hulle hakke was die 120 km ruiters wat 05:00 weggespring het.
Die 100 km ruiters is al van 06:00 in die saal, met die 80 km en 40 km ruiters kort op hulle hakke van 07:30 af.
Ruiters het al Maandag aangekom, van oor die land, en daar neem selfs ’n ruiter van Indië hier deel.
Veeartse en beamptes kom ook van so ver as Namibië en Botswana om te sorg dat reëls streng gevolg word.
Nog perde sal Saterdag (20 September 2025) deelneem aan die verskeie afstande, behalwe die 160 km.
Outeniqua Uithouritklub bied die geleentheid vanjaar vir die tweede keer aan. Die vorige rit was in April 2024.
Volgens die klub is hierdie rit se roetes baie gewild en natuurskoon perfek vir ’n gebeurtenis van hierdie aard.
“Ons sien uit om gaste van regoor die wêreld te verwelkom en ons dorp se unieke skoonheid en gasvryheid te deel,” sê Henk Basson, voorsitter van die klub.
Perdeliefhebbers is welkom om die geleentheid by te woon en die opwinding beleef, daar is ook heerlike kos te koop, gemaak deur die bekwame hande van Esti-Marie de Jager en Julia Booysen van Ek en Jy Catering.
Kaartjies is ook beskikbaar vir Vrydagaand se spitbraai-ete. Kontak gerus vir Angelique by 076 606 2554 om te bespreek. (ANGELIQUE ERASMUS)
Pragperde galop die naweek by internasionale rit
Ahmad Aldarwish, al die pad van die VAE het aan die vorige FEI rit hier kom deelneem.
Foto: Johanette Photography