Perde presteer uitstekend by FEI rit

Bo: Ruiters saal hul perde op voor die 40 km wegspring. Onder: In volle gallop op een van die 80 km bane. Foto’s verskaf

Sowat 70 perde het Vrydag en Saterdag by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn aan die Victorious Challenge De Zeekoerit, onderskeidelik 160 km, 120 km, 100 km, 80 km en 40 km afstande deelgeneem.
Perde en hul ruiters het Vrydag-oggend 03:00 in die Karoodonker weggespring.

Daar het 6 perde die 160 km af-stand aangedurf. Slegs twee het die afstand voltooi. Mabet Cilliers op die perd Saruk Snakebite het die eindstreep in 10:16:47 gehaal. Haar perd se totale slip tyd (wanneer die hart-klop laag genoeg was om aan die veeartse aan te bied) was 08:33. Daar was 7 veeartsondersoeke deur die loop van die dag.

Uit die 30 perde wat Vrydag deelgeneem het in die verskeie afstande, het 8 perde nie hul afstande voltooi nie.

Op Saterdag het 42 perde op verskillende afstande weggespring. Die eerste perde was om 05:00 in die pad gewees. 9 Perde het op die dag uitgeval.

Ankhe Muller, oudleerder van Langenhoven Gimnasium en die perd Sanniesguns Barbuda, het die 120 km gewen in ’n tyd van 05:56:35.

Lea Michele Muller – oudleerder van Laerskool Wesbank was die eerste jong ruiter oor die wenstreep op haar geliefde perd Rafara.

Afgesien van vroeë oggende en laat aande was die rit ’n groot sukses met geen ernstige ongelukke of perde wat seergekry het nie.

Daar was wel ’n hele paar perde wat lekker geskrik het vir ’n volstruiswyfie wat langs die draad nes gemaak het.

Outeniqua Uithouritklub wil graag elke borg bedank wat die dag moont-lik gemaak het, asook almal wat gehelp reël het en ruiters van regoor die land so welkom laat voel het in die Klein Karoo. (ANGELIQUE ERASMUS)