Die wenners van Saterdag se vleisdagkompetisie was afwesig toe hierdie foto geneem is. Magda Ferreira (links) was derde en Danie Terblanche (regs) vierde. In die middel staan Oudtshoorn Gholfklub se nuwe klubkaptein, Johan Cornelissen. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE Oudtshoorn Gholfklub se vleisgholfdag is deur ’n besoeker, S Marthinus met ’n telling van 42 punte gewen. Nog ’n besoeker, F Hendriks, was tweede met 40 punte.
Magda Ferreira en Danie Terblanche, albei met 40, was op ’n uittel onderskeidelik derde en vierde. Jaco Mortlock (39) was vyfde.
Marthinus het die boerpot gewen. Francois Beets het op die 8ste putjie ’n spogtwee geslaan, Jurgens Burger (jr) op die 3de, Treurnicht op die 12de en Van Dyk op die 3de.
Altesame 76 spelers het aan die vleisdag deelgeneem wat deur Oudtshoorn Spar geborg is.
• Die Oudtshoorn Rotariërs se jaarlikse gholfdag vind môre (Vrydag) op die plaaslike baan plaas. Die dag begin om 12:00 met tee en toebroodjies in die klubhuis. Die reëls word om 12:30 verduidelik en om 13:00 slaan al die spelers gelyktydig van al 18 bowwe af. Die formaat is 4BBB stableford.
Inskrywings beloop R1000 per span en sluit ’n ete in. Vir navrae kan Riaan Nortjé by tel 044 279 1610 gekontak word.
• Die gholfklub het Woensdagaand (25 Oktober) by sy algemene jaarvergadering ’n nuwe bestuur gekies. Winston Coerecius is as president herkies en Johan Cornelissen is die nuwe klubkaptein. Louis Fourie is die nuwe vise-kaptein.
Die addisionele lede is Gideon Badenhorst, Jurie Neethling, Willem Burger, Annelien Badenhorst en Rudi Mortlock.