Die span van Oudtshoorn Munisipaliteit wat die Sakerolballiga gewen het, is van links: André Olivier, Jacques Jacobs, Ian Laubscher (skipper) en Elroy McKay. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE rolbalspan van die Oudthoorn Munisipaliteit het die Oudtshoorn Sakerolballiga, wat ses weke geduur het en Woensdagaand, 7 Maart, ten einde geloop het, net-net gewen.
Hulle het die spanne van die Laerskool Van Reede en die Laerskool Wesbank geklop nadat die eerste drie spanne almal met 20 punte geëindig het. Die wenspan moes toe op ’n uittel bepaal word.
Altesame 32 spanne het elke Woensdagaand sake uitgespook.
Al word die liga deur ’n gesellige atmosfeer gekenmerk wat deur oud en jonk geniet word, is die rolbal ernstig opgeneem en was die mededinging straf.
Gertjie Bekker, president van die klub, het al die deelnemers bedank en genoem dat die klub finansieel baat by die toernooi.