Dié Pilatus PC-21, ’n turbo prop-straalvliegtuig wat oorsee gebruik word vir opleiding, is deur die deelnemers aangewys as hul gunste-lingmodel van die byeenkoms. Dit het ook die prys gewen vir die mees realistiese vliegvertoning, sowel as die beste groot model van die byeenkoms. Die vliegtuig behoort aan Neville Wright van Benoni.

Franco du Plooy van Bloemfontein op die aanloopbaan van Oudtshoorn se vliegveld met sy Pilatus PC21 (links) en sy groen Yak 55M Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE Kango Vliegklub van Oudtshoorn se 50ste radiobeheerde skaal-modelvliegtuigskou die naweek was die grootste nóg, sê Fanie Fourie, voorsitter van die klub.
Die skou, wat van Donderdag tot Sondag geduur het, het 136 vlieëniers en 306 vliegtuigies vanoor Suid-Afrika gelok.
Volgens Fourie is die eerste radiobeheerde skaalvliegtuigskou in 1969 in Kaapstad gehou, maar bied Oudtshoorn dit sedertdien jaarliks met groot sukses hier aan.
“Ons is dankbaar oor die verloop van die skou en die ondersteuning wat ons gekry het,” het hy gesê.
Die winderige weer van Sondag het veroorsaak dat die meeste deelnemers nie kans gesien het om te vlieg nie.