DIE Oud-Gimmie Louis Visser (21) het pas die Suid-Afrikaanse padfietswedrentitel gewen.
Visser het Sondag by Swadini Forever Resorts, net buite Hoedspruit, in Mpumalanga aan die Suid-Afrikaanse fietswedrenkampioenskap deelgeneem en met ’n breukdeel van ’n sekonde voor Jean-Pierre Lloyd oor die eindstreep gejaag.
Die totale afstand van die wedren was 175 km, waartydens die deelnemers 1345 m geklim het. Visser, wat ’n gemiddelde snelheid van 41,7 km/h gehandhaaf het, het die ren in ’n tyd van 4:06:44,28 gewen. Sy topsnelheid was 68,4 km/h
Visser het op 16-jarige ouderdom mededingend begin fietsry en het ná sy matriekjaar in 2018 by die Dimension Data Continental-span aangesluit. Hy het twee jaar vir hulle gery voordat hy deel geword het van die TEG Pro-Cycling-span.
Sy pa, ook Louis, wat as kommunikasiebeampte by die Oudtshoorn Polisie werk, het aan Die Hoorn gesê sy seun het reeds verlede jaar begin voorberei vir vanjaar se kampioenskap.
Hy het vanjaar reeds aan drie padfietswedrenne deelgeneem. Op 11 Januarie het hy die Wes-Kaapse padfietswedren in die Paarl gewen; op 26 Januarie was hy tweede in die Fast One-kompetisie in Johannesburg; en op 2 Februarie het hy die Race at the Museum in Pretoria gewen.
Teen Sondag (9 Februarie) het Visser reeds ’n verstommende 2 431 km vir die jaar gery.
“Sy oupa, ook Louis Visser (78), het gereeld aan fietswedrenne deelgeneem,” sê pa Louis.
Ná sy oupa se aftrede het die jong Louis eendag op sy oupa se fiets geklim en ’n ent saam met sy pa, ook ’n geesdriftige fietsryer, gaan ry.
Visser was toe ’n leerder van Laerskool Oudts-hoorn-Noord (vandag Laerskool Laurus) en die gogga het behoorlik gebyt. “Op 15 het hy sy eerste padfietswedren voltooi en daarna net meer en meer deelgeneem,” vertel hy.
Hoewel Louis jr steeds op Oudtshoorn woon, is hy maar min tuis en neem sy fietsryloopbaan hom regoor die land en wêreld.
Volgende op sy fietsrykalender is die Dischem Ride for Sight op 16 Februarie in Boksburg en dan die Gerald Cycle Tour op 22 Februarie in Port-Elizabeth. Van 2 tot 6 Maart lê die Tour of Goodhope in die Kaapse Wynlande voor.
“Ons is ongelooflik trots op hom en baie opgewonde oor wat die jaar vir hom inhou,” sê sy pa, terwyl die jongste Louis laat weet: “Dit was ’n baie opwindende begin van die jaar. Ek het sover drie uit die vier wedrenne waaraan ek deelgeneem het gewen. Ek sien regtig uit na die res van die jaar. Hopelik kan ek so volhou!” (Deur Angelique Erasmus)