Lazers wen domino-liga

Foto: Granwille Goliath

Lazers het Sondag (23 November) geskiedenis gemaak toe hulle die Eagles in ’n spanningvolle eindstryd geklop het. Die Eagles het die eerste helfte met 11 punte voorgeloop, maar Lazers het vasgebyt en in die laaste oomblikke die oorwinning verseël.

Die span het nie net die liga gewen nie, maar ook boaan die punteleer geëindig, as die eerste span in die geskiedenis van die Oudtshoorn Domino-unie om meer as 100 ligapunte in ’n seisoen aan te teken.
Lazers het deur die jaar aan verskeie kompetisies deelgeneem en die Heritage Day-beker verower.

Van hul 23 wedstryde het hulle slegs drie verloor, ’n uitsonderlike seisoen vir Lazers. Die Oudtshoorn Domino-unie het ook aan die Munisipale Sportfees deelgeneem, waar Neppon die beker gewen het. Dit was oor die algemeen ’n jaar vol hoogtepunte vir die unie. Hierdie Sondag (30 November) volg die jaarlikse prysuitdeling by die Bridgton-sportgronde.

Die unie groei jaar op jaar. Vanjaar het 156 spelers deelgeneem. Wat eens ’n gesellige speletjie onder ’n boom of tydens familiebyeenkomste was, het nou ontwikkel in ’n volwaardige sport.

Belangstellendes is welkom om die voorsitter, Andrew Ruiters, te kontak by 074 446 0047 om by die Oudtshoorn Domino-unie aan te sluit. (GRANWILLE GOLIATH)