Hartland Rit lok ruiters na Roodeheuvel

Ruiters en hul pragperde het die baan en koeler weersomstandighede geniet. Foto verskaf

Die rustige plaasomgewing van Roodeheuvel, net buite Oudtshoorn, het die afgelope naweek lewe gekry toe ruiters van regoor die streek deelgeneem het aan die gewilde Hartland Perde-uithourit.

Sowat 40 perde het oor die twee dae aan die uithourit deelgeneem, wat weereens bewys het dat die lekker Klein Karoo paaie en weer perfek is vir hierdie sport.

Die geleentheid het Vrydag afgeskop met ’n 40 km-rit, waar ruiters en hul perde die roete aangepak het in ideale toestande ná onlangse reën.

Saterdag het die aksie voortgeduur met nog ’n 40 km-rit, sowel as ’n meer uitdagende 80 km.

Die roetes met wisselende terrein het nie net die perde se uithouvermoë getoets nie, maar ook die ruiters se vaardighede. Soos met alle uithouritte, geniet die perde se welstand prioriteit met streng veeartse wat verseker het dat alle diere fiks, gesond en veilig bly vir die duur van die kompetisie.

Die Hartland Rit het nie net sport en kompetisie gebied nie, maar ook ’n geleentheid gebied vir lekker saamkuier met ruiters, familie en vriende wat saamgekom het om hul liefde vir perde en die buitelewe te vier.

Organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor alle deelnemers, ondersteuners en die reëlingskomitee wat die geleentheid moontlik gemaak het.

Hou die perde-uithourit kalender dop vir nog opwindende ritte in die omgewing waar hierdie pragdiere en hul ruiters kom ry. (ANGELIQUE ERASMUS)