DIE 36ONE MTB-bergfietsren wat Vrydag en Saterdag plaasgevind het, het weens die uitmergelende hitte die liggaamlike kragte van deelnemers tot die uiterste beproef.
Die vrouetitel is deur Fienie Barnard van Oudts-hoorn ingepalm. Nog ’n Oudtshoorniet, Braam Wannenburg, het tweede in die mansafdeling geëindig.
Henco Rademeyer, besturende direkteur van Dryland wat die ren aanbied en wedloopdirekteur van die 36ONE het gesê dat Dryland nie kon wag om eindelik weer ’n bergfietsren aan te bied ná die stilsittery weens die Covid-19-pandemie nie.
Hy sê weens die weersomstandighede en buiten-gewone hitte was dit nie ’n maklike wedren nie.
“Die Dryland-span was egter goed voorbereid en kon die mediese gevalle goed hanteer.
“Ons is bly om te sien soveel Oudtshoorn-ryers het deelgeneem en is veral trots dat Fienie, ’n plaaslike ryer, met die louere in die vroue-afdeling weggestap het,” het hy gesê.
Die top-drie mans was: Dusty Day – 15 uur 18 min 14 sek; Wannenburg – 15:42:50 en Timo Cooper – 15:43:48. Die top-drie vroue was: Barnard – 18:08:57; Jenny Close – 19:06:25 en Bianca Cooper – 19:49:37.