Die tweede dubbelspeltoernooi van die Wesbank Tennisklub, geborg deur Pam Golding Eiendomme, wat die afgelope naweek plaasgevind het was ’n reusesukses met altesaam 46 spelers van regoor die Suid-Kaap en selfs twee van die Oos-Kaap, wat daaraan deelgeneem het.
In die A-afdeling van die gemengde dubbelspel het George Wallace van die George Tennisklub en Maaike Ferreira van Great Tennisklub met die louere weggestap toe hulle vir Zander Petzer van die Wesbank Tennisklub en Annalize Potgieter van Great Tennisklub in die eindstryd geklop het. Ryk Smit (Mosselbaai) en Helena Smuts (Hartenbos) was derde.
In die B-afdeling was dit die ma-en-seun-kombinasie van Christine en Rheinier van Coller van die Hartenbos Tennisklub wat koning gekraai het deur vir Louis Pienaar van die Wesbank Tennisklub en Christine Gouws van die George Tennisklub in die finaal te klop. Abrey Nel en Carla Botha van die Mosselbaai Tennisklub was derde.
Die pa-en-seun-kombinasie, Cilliers en Marcell Petzer van die Wesbank Tennisklub, het die mans dubbelspel kompetisie gewen met ’n oorwinnig oor Gert Swart en Hans de Villiers van Mosselbaai.Hugo van der Berg en Morné Tome van die Wesbank Tennisklub het derde geëindig.
Daar was pryse vir al 46 deelnemers.
In ’n eenpunt-toernooi waaraan al die spelers deelgeneem het en vir groot pret gesorg het, het Maaike Ferreira van Great Tennisklub vir Rida Bester (Wesbank) in die eindstryd geklop en met prysgeld van R1 000 weggestap.
Jacques de Beer van Pam Golding Eiendomme het die versekering gegee dat die toernooi beslis weer volgende jaar aangebied sal word en die hoop uitgespreek dat dit verder sal groei.
Klubvoorsitter Louis Uys, het die toernooi as uiters geslaagd beskryf en namens die klub die borge en spelers bedank. (Deur Garnett Wicomb)
Dubbelstoernooi van Wesbank Tennisklub groot sukses
