Krieketgeesdriftes van Oudtshoorn kry die naweek en volgende week die geleentheid om drie Protea-krieketspelers op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) in aksie te sien.
Dié drie is die sterbouler Vernon Philander en die kolwers JP Duminy en Temba Bavuma. Veral Bavuma was een van die min SA-kolwers wat die afgelope reeks teen Engeland sy man met die kolf gestaan het.
Dié drie speel vir die WSB Kaapse Kobras wat twee tweedag-wedstryde op die Rec teen die Worriers gaan speel om hulself voor te berei vir die Sunfoilreeks wat later vandeesmaand begin.
Die eerste wedstryd vind Saterdag en Sondag plaas en die tweede wedstryd op Dinsdag en Woensdag, 11 en 12 September. Toegang tot albei wedstryde is gratis.
• Die Cobras gaan in Oktober twee van hul Sunfoilreeks-wedstryde op die Rec speel. Hulle speel van 6 tot 9 Oktober hier teen die VKB Knights en van 23 tot 26 Oktober teen die Dolphins.