Aksie uit Saterdag se wedstryd op die Plate tussen Collegians en All Blacks. Collegians het met 20-14 gewen. Foto: Ebenezer Titus
Deur Wyndham Ewerts
Collegians se eerste rugbyspan het Saterdag op die Bridgton Sportgronde in ’n SWD Presidentsliga-wedstryd (Karoostreek) All Blacks met 20-14 in ’n derbystryd verslaan.
Ondanks winderige toestande het albei spanne goeie balvaardighede ten toon gestel wat groot byval by die toeskouers gevind het.
Die eerste punte is vroeg in die wedstryd behaal nadat Collegians vir onkantspel gestraf is. All Blacks se heelagter, Dwayne Januarie, het geen fout gemaak nie. Telling: 3-0.
Net daarna is All Blacks binne tref-afstand vir ’n soortgelyke oortreding gestraf. Collegians se jong skrumskakel, Ronaldo Botha, het oorge-skop om gelykop te maak.
Hierna het albei spanne verwoed begin aanval. Weens die druk het All Blacks weer onkant gespeel.
Collegians het ’n vinnige tikskoppie geneem, die bal vinnig aangegee na die vlugvoetige heelagter,
Trompie Campher, om in die hoek vir die eerste drie van die wedstryd oor te duik. Die doelskop was mis.
Die enigste verdere punte in die eerste helfte was ’n strafdoel deur All Blacks se Januarie wat die rustydtelling op 8-6 te staan gebring het.
Met die afskop vir die tweede helfte kon All Blacks nie die bal beheer nie. Collegians se flank, Michael Tyali, het die bal in die hande gekry en deurgenael vir ’n drie onder die pale. Botha het verdoel om sy span se voorsprong tot 15-6 te vergroot.
Nadat Collegians gefouteer het, het All Blacks se Januarie nog ’n strafdoel behaal. Met die telling op 15-9 was All Blacks nog binne trefafstand.
’n Knap stukkie spel deur die jong Botha het egter All Blacks se kanse geknou. Nadat Collegians goed gedryf het, het Botha die bal in die hande gekry en met ’n fopaangee sy teenstanders gefnuik om te gaan druk. Die doelskop was mis.
In die doodsnikke van die wedstryd het All Blacks se buitesenter, Joseph Alexander, ’n welverdiende troosdrie gaan druk. Die doelskop was mis. Eindtelling: 20-14.
All Blacks se B-span het Collegians met 23-15 verslaan.
• Ben du Preez berig die Oudtshoorn Rugbyklub se A-span het Saterdag op die Oudtshoorn Sportgron- de (Rec) vir Kango United oortuigend met 66-0 in ’n Karoostreekwedstryd verslaan, en dit sonder ’n hele paar van sy gereelde eerstespanspelers wat nie beskikbaar was nie.
Oudtshoorn het alle fassette van die spel oorheers en elf drieë gedruk.
Die driedrukkers was JD Fourie (vleuel), Shaun van der Schyff (senter), Keith Marx (senter), Christo Beneke (losskakel), Brad Hendricks (skrumskakel), Jumarius Meyer (flank), Darryn Viljoen (slot), Ruan Tolken (slot), Anru Tolken (plaasvervangerlosskakel), Fregwell Hendricks (plaasvervangersenter) en Bronwyn Felix (plaasvervanger-vleuel).
Anru Tolken en Christo Beneke het elk twee drieë verdoel en Werner Wildeman een drie.