All Blacks sorg vir oorwinning teen Rangers

Die All Blacks se A-span het die wa deur die drif getrek toe hulle die span van Albertinia Rangers Saterdag, 25 Mei, geklop het nadat hulle agter was met die begin van die tweede helfte. Foto’s: Lindi Brill

Dit was ’n redelike stil rugbynaweek in Oudtshoorn gewees aangesien die Harlequins, Bridgton RFC en Oudtshoorn RFC geen wedstryde gehad het nie.

Die All Blacks het egter Saterdag, 25 Mei hul wedstryde op die REC in Oudtshoorn gespeel en gesorg dat hulle hul ondersteuners met goeie rugby bederf toe hulle die spanne van Albertinia Rangers aangevat het.

Die A-span van die All Blacks, wat vir die eerste helfte van die wedstryd met ’n telling van 12-19 agter was, het teruggeveg en die wedstryd gewen met ’n telling van 37-24.

Nathan Baartman, Donovan le Roux, Dominique Kamfer en Adion Ntlati het elkeen ’n draai agter die doellyn gaan maak. Punte tussen die pale deur is aangeteken deur Jason Plaatjies en Duwayne Januarie.

Die speler van die wedstryd vir die eerste span was die losskakel, PJ Sauls.

Die B-span van die All Blacks het ook gesorg vir groot aksie op die veld en het hul wedstryd suksesvol afgehandel met 13 punte teenoor 10 vir Albertinia se B-span. Roberto Botha was die enigste puntemaker en het gesorg vir ’n drie, ’n doelskop en twee strafskoppe. Die speler van die wedstryd vir die B-span was Ayden Kiewiets.

Na Saterdag se wedstryd lê die eerste span tans sewende in die SWD Eerste Liga A-afdeling met 18 punte.

Hul volgende wedstryd is op Saterdag 1 Junie, wanneer hulle die Blues van Riversdal in ’n weg- wedstryd aanpak. (Deur Lindi Brill)