By die opening van Wesbank Preprimêr se nuwe saal verlede Donderdagaand was van links Mariétjie Potgieter (skoolhoof), Dorothea Delport (voorsitter van die beheerliggaam), Alewyn Hanekom (voormalige hoof van Laerskool Wesbank), James King (eerste voorsitter van Wesbank Preprimêr se beheerliggaam) en dr Wessel Vermeulen, wat as voorsitter van Laerskool Wesbank se beheerliggaam die dryfveer was agter die stigting van die skool.
Deur Liesel le Roux
WESBANK PREPRIMêR het verlede Donderdagaand sy nuwe saal ingewy en terselfdertyd die borge wat bygedra het tot die koste van die saal, onthaal.
Die voormalige hoof van Laerskool Wesbank, Alewyn Hanekom, het met behulp van ’n Powerpoint-aanbieding die geskiedenis vertel van die skool, wat sy deure op 17 Januarie 1998 geopen het. Hanekom was hoof van Laerskool Wesbank toe besluit is om Wesbank Preprimêr as ’n onafhanklike skool te stig.
Die skool is ingerig in die ou Gerberhuis in Buitekantstraat wat omskep is in klaskamers. Die skool het met 75 kinders geopen.
Hanekom het tydens sy vertelling verwys na die dag in 2014 toe die Gerberhuis in duie gestort het. Hy het vertel dat hy op die ingewing van die oomblik ’n draai by die skool gaan maak het, iets wat hy nooit daardie tyd van die dag gedoen het nie. Hy het opgemerk dat die mure begin kraak en hy en die personeel het die kinders die gebou laat ontruim. Slegs ’n halfuur later het die Gerberhuis ineengestort.
“Die Here het ons daardie dag beskerm,” het Hanekom gesê.