
Marcel Simpson
EEN van die Klein Karoo se toppresteerders van die 2016-matriekeksamen was Marcel Simpson van die Hoërskool Ladismith. Marcel wat vanaf graad 4 altyd eerste in die haar klas gestaan het, het sewe vakonderskeidings en ’n gemiddeld van 89% behaal.
Sy was ook haar skool en koshuis se hoofmeisie, voorsitter van die VRL, die top- senior redenaar en het op die redaksie van die skoolkoerant gedien.
Sy beskryf haarself as oplettend, en sê sy het van die begin van die jaar af hard gewerk aan haar studie. Marcel beplan om medies aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer en eendag verder te spesialiseer.
Sy wil graag ander mense inspireer, sê sy. “Ek wil ’n verskil in mense se lewens maak. Byvoorbeeld, om iemand te help met ’n tweede kans nadat hy gedink het hy sal nooit weer ’n sonsopkoms sien nie. Waar ek my ook al mag bevind, wil ek iemand wees na wie ander kan opkyk. Al kan ek net ’n paar mense inspireer, sal dit vir my die wêreld beteken. Ek wil baie graag suksesvol wees in wat ek ook al aanpak om ander te motiveer om ook hul eie unieke hoogtes te bereik; ongeag wie jy is en wat jy moes deurmaak.”
Marcel is ook plat op die aarde en heg waarde aan die klein dingetjies in die lewe. Vriendelikheid, eerlikheid, lojaliteit, hardwerkendheid en verantwoordelikheid is baie belangrik vir haar. “Ek glo ook daaraan dat jy moet veg en hard werk vir dit wat jy wil hê. As jy ’n fout maak, erken dit en herstel dit. Jy moet ook bereid wees om daardie ekstra myl te loop.”
Geloof is ook vir haar belangrik. “Elke dag wat ek geskryf het, het ek die Here gevra om die ink in my pen te wees en my te help – en Hy het.”
Sy stap graag, en behoort aan die Kannaland Vasbytklub. Sy neem as lid van ’n span van ses deel aan staptogte van 75 km. Nou en dan draf sy ook. “Dit is vir my nogal belangrik om fiks en aktief te bly. Ek glo aan daardie ou spreekwoord dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde brein of gees huisves.” Sy het ook in matriek aan netbal en atletiek deelgeneem.
Stokperdjies sluit in drama – sy hou daarvan om monoloë en gedigte voor te dra. En sy is baie lief vir lees. “As ek eers ’n boek begin lees, kan jy niks met my uitgerig kry voordat ek nie daardie boek klaar gelees het nie.” Sy geniet dit ook om legkaarte te bou, musiek te luister en tyd saam met haar vriende deur te bring.
Sy voel sterk oor die toekoms van Suid-Afrika, en dat daar nog steeds hoop is; al is daar baie probleme. “Suid-Afrika het soveel potensiaal, maar misdaad en politieke ongerymdhede veroorsaak dat individue die land verlaat en so word daardie kennis die land ontneem. Klein ‘jakkalsies’, soos politieke onmin, diskriminasie en xenofobie moet vernietig word sodat harmonie en vrede weer kan seëvier.
“Dit moet egter van jongs af vir kinders aangeleer word; kinders moet reg by die huis opgevoed word omdat kinders die leiding van die ouers volg.”
Sy het ander leerders aangemoedig om ook hul bes te doen. “Jy hoef nie van ’n groot of ’n topskool te kom om iets te bereik nie. Mnr Fourie by my skool het altyd gesê: ‘If it is to be, it is up to me.’” Wys hierdie jaar wat regtig in jou steek, want jy kan self jou toekoms bepaal.”