
Godfrey, Amré en Desireé McCallum.
ALMAL wat die prysuitdelingsaande van Laerskool van Reede en die Hoërskool Oudtshoorn die afgelope 12 jaar bygewoon het, ken vir Amré McCallum – die vriendelike, talentvolle seun wat in alles onder die son uitblink.
En nou het Amré ook sy skoolloopbaan op ’n hoogtepunt afgesluit met ’n vakgemiddeld van 87,4% en onderskeidings in Engels, Afrikaans, wiskunde, rekeningkunde, besigheidstudies, musiek, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.
Amré, die seun van Godfrey en Desireé McCallum, beoog om vanjaar B Rek aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Sy pa is die hoof van Sacred Heart Primêr en sy ma onderwyser in besigheidstudies by die Hoërskool Oudtshoorn.
Hy het tydens ’n besige matriekjaar gefokus gebly deur elke dag op ’n witbord in sy slaapkamer te beplan – ’n voorstel van sy ma, vertel Amré. “Om te presteer moet ’n mens gefokus bly. Deur
vooruit te beplan het ek seker gemaak daar wag geen verrassing op my nie!”
Sy besigste dag was Maandae wanneer hy eers 20:00 tuis was.
Maar Amré is van jongs af gewoond aan besige skooldae, naweke en vakansies met ’n verskeidenheid sportsoorte waarin hy SWD-kleure verwerf het en landwyd moes meeding – in skaak, swem, tennis, hokkie en tweekamp. “Veral die Maart-/Aprilvakansies was baie besig.
Een jaar moes ek in dié vakansie die SWD op drie plekke in die land verteenwoordig in swem, tweekamp en tennis.”
Amré sê hy is baie dankbaar teenoor sy ouers wat hom oral heen karwei het en oor die jare altyd daar was as hy deelgeneem het.
Amré het ook in musiek uitgeblink. Hy het tot in graad 9 musiek buitemuurs geneem en Unisa se graad 6-eksamen geslaag, waarna hy van graad 10 af musiek as skoolvak begin neem het.
Daar was ook ander dinge wat hom in matriek besig gehou het: Hy was kaptein van sy skool se eerste krieketspan, het gholf vir die skool gespeel, in die koor gesing, was sekretaris van die skool se VRL en ’n CSV-kringleier.
“Vir my is die belangrike ding om vir God dankie te sê vir alles wat ek gekry het – die talente en die ouers wat Hy vir my gegee het. Dit is ook vir my belangrik om ’n gebalan-seerde kewe te lei en ook ’n sosiale lewe te hê en tyd met my gesin deur te bring. Dit is ook vir my belangrik om gelukkig te wees in dit wat ek doen. Dit wat ’n mens doen, moet pret wees.”