Die nuwe bestuur van die Oudtshoorn Besigheidskamer wat verlede Donderdagaand by die Algemene Jaarvergadering verkies is, is van links Niel Els, Jacobus Maloney, Gideon Badenhorst, Rudi van Dyk, De Villiers Neethling, Jaco Vorster, Phillip Venter en Hennie Davel.

Regs: Die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Gideon Badenhorst (middel), by die twee sprekers by die vergadering, Crispin Sonn, nie-uitvoerende voorsitter van die Kunste Onbeperk (links) en Pikkie Siebritz, waarnemende uitvoerende hoof van Aifa, die vliegskool op Oudtshoorn. Foto’: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
BESIGHEDE op Oudtshoorn het vanjaar die geleentheid om werklik ’n verskil te maak in die toekoms van Oudtshoorn deur betrokke te raak by een van agt projekte wat die Oudtshoorn Besigheidskamer geïdentifiseer het.
Die voorsitter van die Besigheidskamer, Gideon Badenhorst, het besighede verlede Donderdag by die kamer se Algemene Jaarvergadering uitgedaag om “hand op te steek” en saam te werk aan die dorp se vooruitgang.
“Hier is ’n ope geleentheid. Ek daag julle uit – raak betrokke en help dié projekte dryf,” het hy gesê.
Die projekte is op 25 Januarie by ’n middagvergadering wat deur ’n groot groep lede bygewoon is, bekendgestel.
Die projekte is Belê in Oudtshoorn/ Oudtshoorn-beleggingsgroep; Volhoubaarheid van bestaande besighede; Ek is Oudtshoorn; Onderwys en opleiding; Skoonmaak en sekuriteit; Hernubare energie; Toerisme asook Landbou.
Badenhorst het gesê hoewel die verhouding tussen die Besigheidskamer en die munisipaliteit in die voorafgaande jaar verbeter het, sal die Besigheidskamer “sy hand diep in die sak moet steek as ons resultate op Oudtshoorn wil sien waar ons glo dit belangrik is.”
Volgens Badenhorst is een van die positiewe ontwikkelings dat die Burgemeesterskomitee deesdae een maal per maand met die Besigheidskamerbestuur vergader sodat gesprekvoering deurentyd kan plaasvind.
• Lede word genooi om betrokke te raak en ’n verskil te maak. Kontak Helen Butler by die kamer by tel 044 272 6637 of business@odnchamber.co.za