Die Oudtshoorn Besigheidskamer (OBK), onder leiding van Abri Ferreira, het ’n dringende beroep op ingryping gedoen namate voortdurende vloede dele van die Klein Karoo ernstig ontwrig en die streek toenemend isoleer.
Volgens die besigheidskamer het die situasie vererger ná die sluiting van beide die Meiringspoort en die Swartbergpas, wat belangrike toegangspaaie na en uit Oudtshoorn effektief afgesny het.
Toerismesektor onder druk: Die verklaring lees verder dat die sluiting van hierdie ikoniese roetes plaas groot druk op die plaaslike toerismebedryf.
Oudtshoorn, wat bekend is as ’n gewilde bestemming vir plaaslike en internasionale besoekers, ervaar reeds merkbare gevolge. “Toerisme is die lewensaar van ons dorp,” het Ferreira gesê.
“Die feit dat besoekers nie toegang het tot die Kangogrotte, volstruisplase en ons skilderagtige roetes nie, het ’n ernstige impak op inkomste en bedreig die streek se reputasie as betroubare reisbestemming.”
Sporttoerisme in gedrang: Die huidige weerstoestande het ook ’n nadelige uitwerking op groot sport-toerismegeleenthede wat binnekort in die streek sou plaasvind, insluitend die Meiringspoort Challenge en die 36ONE Mountain Bike Challenge.
Ferreira sê die tydsberekening van die vloede is veral ongunstig: “Hier-die geleenthede bring duisende deelnemers en besoekers na ons dorp.
Kansellasies sal ’n beduidende verlies vir plaaslike besighede beteken.”
Besigheid en infrastruktuur ge-raak: Benewens toerisme word plaaslike handel en infrastruktuur ook ernstig beïnvloed.
Verskaffingskettings is ontwrig, terwyl baie werknemers sukkel om werk toe te reis weens onbegaanbare paaie.
Die Besigheidskamer het ook kommer uitgespreek oor geïsoleerde gemeenskappe wat tans beperkte toegang tot nood- en mediese dienste het.
Landbou-impak: Die landbousektor in die streek ervaar volgens berigte aansienlike skade aan gewasse en besproeiingsinfrastruktuur.
Die beweging van vee en produkte is grootliks beperk, met sommige gebiede wat steeds afgesny is.
Oproep tot ingryping: Die Besigheidskamer doen ’n beroep op provinsiale en nasionale owerhede om die herstel van die Meiringspoort en Swartbergpas as ’n prioriteit te hanteer sodra watervlakke dit toelaat.
“Ons is ’n veerkragtige gemeenskap, maar die omvang van die situasie kan nie onderskat word nie,” het hy afgesluit.
Ferreira moedig ook inwoners aan om mekaar te ondersteun asook veiligheid eerste te stel en laagwaterbrûe te vermy.
