SAIC lok meer as 170 perde en ruiters

Bo: Nico-Meyer le Roux en Areli Royal Reign pak die 120 km aan. Onder: Lara le Roux en haar perd Areli Silver Skeet tydens die 100 km afstand. Foto’s: Johanette Photography

Die South African International Challenge (SAIC), perde-uithourit, het van 30 April tot 2 Mei 2026 by Sondela, naby Bela-Bela in die Limpopo provinsie plaasgevind.

Vanjaar het die rit sowat 170 perde en hul ruiters gelok vir ’n strawwe uithouritkompetisie deur die Bosveld.

Die byeenkoms het oor verskeie afstande en dae gestrek, en het ruiters met hul perde se uithouvermoë tot die uiterste toets.

Op 30 April het die 80 km, 100 km en 160 km afstande plaasgevind met die eerste perde wat om 02:00 die oggend in die donker weggetrek het. Op 2 Mei was dit die 120 km perde se beurt.

Hulle was ook die grootste groep met net minder as 100 deelnemers. Die ruiters moes in die verskillende gewigkategorieë wegtrek.

Die Le Roux sibbe het weer voor gery en Nico-Meyer en sy suster Lara het weer die Klein Karoo trots gemaak.

Lara en haar perd Areli Silver Skeet was algeheel eerste in die 100 km afstand, asook eerste in die liggewig kategorie met ’n tyd van 4 uur en 35 minute.

Nico-Meyer en sy perd, Areli Royal Reign was ook algeheel eerste en die eerste Standaardgewig ruiter in die 120 km afstand.

Hulle het klaargemaak in ’n tyd van 5 uur en 29 minute. SAIC bly een van die belangrikste uithourit-geleenthede in Suid-Afrika en trek jaarliks sterk plaaslike én internasionale ruiters, met Sondela wat weer eens as gasheer ’n uitdagende en goed georganiseerde rit aangebied het. (ANGELIQUE ERASMUS)