My stem is die waarborg – Ek het seggingskap!

Deur Poem Mooney

Ek het vroeg vanmôre wakker geraak met ’n storie wat ouma Griet vertel het. Ouma Griet was ’n Willemse en die Willemses van Prins Albert was bobaas storievertellers. Die storie het sy vertel oor mense wat gedurig beloftes maak wat op niks uitloop nie.

“Vat nou maar vir Flip Yskoud”, het ouma Griet haar storie begin. “Hy was die grootste leuenaar wat ek al in my lewe teëgekom het. Sy mond het altyd oorgeloop van leë beloftes. As ek aan hom dink, dink ek aan die storie oor die miskruiers wat by die man gesit het wat ‘band getrek het’ in die oop veld. Die man se maag was ontsteld gewees, want hy’t hom ongaans gevreet aan die truksvye en toe sukkel hy om van ’n groot las ontslae te raak sonder enige sukses. Daardie môre het hy net geblaas sonder om klaar te maak. Hy’t aanhoudend net gefluister en gefluister.
Dis totdat die miskruiers vir mekaar gesê het: ‘Jong, kom ons loop, want dit bly net beloftes, beloftes!”

Hierdie kostelike storie van ouma Griet Willemse sal my altyd bybly as mense beloftes maak wat hulle nie kan nakom nie.

Ek was besig om vir Ousie Roeslyn en myself ’n vroegoggend koffietjie te maak. Sy het haarself die vorige aand oorgenooi vir ’n ontbyt op my agterstoep.

Dit was een van die redes waarom ek vanmôre so vroeg aan die gang was.

Die geur van spek en eiers, vars gebakte huisbrood en moerkoffie het verleidelik in die lug bokant ons gehang.

“Haai, weet jy, Gert,” het Ousie skielik met haar gesprek begin. Sy het smaaklik aan die koffie in haar hand gedrink. Sy het haar koffiebeker neergesit en vir my ook ’n tweede koppie koffie geskink.

“Wat moet ek weet, Ousie?” het ek nuuskierig gevra. “Wat is dit wat so dringend is?”
“Gert!”, het sy my bruusk in die rede geval. Ek wil praat oor die gesprek wat ons gehad het, ek en jy. Toe jy vanaf Prins Albert gekom het.”

“Die gesprek oor die stemwerwery en die politiekery van die stemhonger politieke kandidate en hulle angstige lidmate. Hoe hulle jou stormgeloop het met afgesaagde politieke manifesto’s.”

Ek het nog ’n sluk uit my koffiebeker geneem en toe het ek ewe droogweg my teenvraag in Ousie se rigting geslinger. “Was my betoog dan ’n dood-sonde, Ousie?”, het ek sarkasties opgemerk.

Ousie Roeslyn het verbaas gelyk oor die wrewel, wat sy in my stem opgetel het.

“Jy sien, Ousie, dit het nie eintlik gegaan oor die stemwerwery nie. Dit was eintlik gemik teen die arrogante wyse waarop hulle my bestorm het – asof ek nie seggenskap gehad het oor my konstitionele reg om te stem vir wie ek wil nie.”

“Jy was nogal ’n bie-tjie kras gewees met jou opmerkings, Gert. Ek het weer by die huis gaan nadink…” Ek het gevoel hoe die drif in my opstoot toe ek Ousie se verwytende woorde raak luister.

“Ousie!”, het ek haar skerp aangespreek. “Ek is nie ’n mens wat ’n lap om ’n gesonde vinger draai nie. Ek is moeg vir beloftes, vir T-hempies en kospakkies. Ek is ‘gatvol’ vir die bakhandmentaliteit en ondergeskik wees aan die sogenaamde leiers wat ons tot dusver nog net op dwaalspore gelei het! Het jy geweet, Ousie, dat Khoi-Khoi- en San-mense in die verlede verhinder was om hulle tradisionele lewenswyse voort te sit. Het jy geweet, Ousie, dat ons grondbesit nooit beskerm was nie en dat ons teen die einde van die 18de eeu ’n grondlose proletariant geword het, wat rondgeswerf het, of by die blanke koloniste in diens geneem was?”

“Wag nou, wag nou, Gert,” het Ousie Roeslyn my in die rede geval. “Jy moenie dink ek wil verskil van jou nie. Ek hou van die krag waarop jy my en eendersdenkende mense oortuig. Ek is ook een van diesulkes wat moeg is om as stemvee misbruik te word en ’n bedeling waar julle net misbruik, verneder en onderskat word. ’n Bedeling waarin ons gestroop word van groep-wees, mens-wees en volk-wees. Ek is moeg daarvoor om soos aasdiere aangelok te word, net om bakhand te staan vir kospakkies en braaivleis! Ek het gehoop jy sal my weglei van drukgang-politiekery.”

Ousie Roeslyn het vir ons elkeen ’n stewige beker moerkoffie geskink en toe vervolg sy: “Jy sien, Gert, ek het al baie aande gelê en dink vir wat sien die mense ons aan?”

“Ousie,” het ek haar gewantwoord. “Dit is ook waaraan ek baie dink. Hulle sien ons aan vir mense wat alles opeet vir soetkoek. Pleinweg gesê: hulle sien ons aan as mense met wie se koppe hulle maklik kan smokkel. Ek het eintlik nuus vir hulle. Al stem ek ook vir Koning Saul of al gee ek my stem vir die kerkkoor – daar sal niks kom van die kastige leë beloftes nie, want daar is die spreekwoord wat sê: ‘die belofte is goed, maar die eend lê die eier.’

“Luister mooi wat ek sê, Ousie, die belofte is goed, (dis maklik gesê) maar die eend lê die eier (dis nie so seker dat ’n belofte uitgevoer sal word nie). Ons het nuus vir beloftemakers: Daar lê baie myle tussen doen en sê!” (Deur Poem Mooney)