Kingdom News: Eleanor is tuis

Bo:Klein Carli (4), pa Kobus, nuwe baba sussie Eleanor, en ma Carin Barkhuizen. Hierdie is hul eerste gesinsfoto, geneem met Eleanor se tuiskoms in Oudtshoorn op Saterdag. Foto verskaf Onder: Eleanor in haar wiegie in Kaapstad by die Christiaan Barnard Memorial Hospitaal. Haar kamer het ’n pragtige uitsig oor die hawe en Tafelberg gehad. Foto verskaf

Carin en Kobus Barkhuizen se klein vegtertjie, Eleanor, is uiteindelik tuis na 125 dae in die neonatale intensiewe sorgeenheid.

Eleanor is op 27 Oktober 2024, op slegs 32 weke tydens ’n noodkeisersnee, in George gebore.Sy het slegs 1,5 kg geweeg.

“Ek het pre-eklampsie gehad tydens my swangerskap. Nadat my simptome baie vererger het, het ons dokter besluit dis vir ons albei veiliger as sy gebore word,” vertel Carin.

Eleanor was in George se NISE, waar ’n verpleegster in die eenheid opgelet het haar voetjies bly koud en dat hul nie die regte kleur is nie. Sy is toe geneem vir ’n vollyf skandering en gediagnoseer met ’n vernouing in die hoofslagaar van haar hart, asook met ’n groot gat tussen twee van haar hartkamers.

Volgens Carin is sy eers op hartmedikasie geplaas omdat sy eers ’n hartoperasie kon ondergaan wanneer sy 3 kg weeg. Op 6 Januarie is sy oorgeplaas na die Christiaan Barnard Memorial Hospitaal in Kaapstad waar sy op 9 Januarie geopereer is.

“Dit was vir ons ongelooflik moeilik om nie heeltyd by haar te kon wees nie, weens finansiële en werksverpligtinge, asook die feit dat sy so ver van ons af was. Ons kon haar net elke tweede naweek besoek,” sê Carin.

Volgens Carin het Eleanor na die operasie gesukkel om haar bottel te suig en baie gou moeg geraak en daar was sprake dat sy ’n voedingsbuis sou kry.

“Binne 24 uur het sy egter begin drink sonder probleme, asof sy gehoor het sy gaan nog ’n operasie moet ondergaan en net besluit het sy is nou klaar,” lag Carin.

Eleanor se hartmedisyne is ook verminder, maar sy het aanvanklik ’n terugslag gehad. Die hospitaal moes haar toe stadiger daarvan afhaal en is sy tans op geen hartmedikasie nie.

“Ons het die wonderlike nuus op 26 Februarie ontvang dat ons vir Eleanor Saterdag 1 Maart kan huis toe bring en ons het omtrent geborrel van blydskap en opgewondenheid,” sê ʼn oorstelpte Carin.

Klein Carli (4) het ook nog nie haar sussie ontmoet nie en dit was vir haar ook ’n groot oomblik gewees.

“Sy het Vrydagoggend vir ons kom vertel dat daar nog net een slapie oor is voor haar sussie huis toe kom.”

Eleanor weeg nou 3,75 kg, en is 4 maande oud, maar haar gekorrigeerde ouderdom is 2 maande omdat sy twee maande te vroeg gebore is.

Volgens Carin leer die NISE jou om geduldig te wees, asook nederig omdat elke mylpaal of stap tyd neem en nie aangejaag kan word nie.

“So baie mense het vir ons gevra hoe doen ons dit, maar jy besef jy is in die situasie en kan nie op ’n hopie sit en jouself jammer kry nie. Jy moet die beste van ’n saak maak met wat jy het, en ons moet sterkstaan vir albei ons dogtertjies,” sê Carin.

Sy vertel dat elke dag net genade van bo was en dat die Here hulle gedra het, tesame met wonderlike mense wat hulle ondersteun het en vir hulle gebid het.

“Die Here se genade is groot en ons is absoluut gedra deur gebed en ondersteuning van wonderlike mense wat belanggestel het en saamgebid het vir haar.”

Hierdie was nie die eerste keer dat die Barkhuizen-egpaar die moeilike pad gestap het met ’n baba wat te vroeg gebore is nie. In 2020 is hul oudste dogtertjie op 27 weke gebore en sy het 75 dae in die NISE deurgebring. (ANGELIQUE ERASMUS)

Die bord net buite Ladismith het vir Carin opnuut elke keer krag gegee wanneer hul daar verby gery het op pad Kaapstad toe. Foto veskaf

Be the first to comment on "Kingdom News: Eleanor is tuis"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*