Kapings kruip nader…

Deur Arno Greyling

Deur Arno Greyling

Onlangs het ’n artikel op die webblad News24 my oog gevang wat gehandel het oor ka­pings.

Weens die aard van my werk, bevind ek my dikwels in een van ons groot stede en in daardie omgewing is kapings baie meer relevant as hier by ons in die Klein Karoo.

Die geskiedenis leer ons egter dat die kriminele element al hoe meer gesofistikeerd raak en ook hul metodes aanpas by omstandighede.

Ook is dit verder ’n feit dat die meerderheid werksgeleentheid steeds in die stedelike gebiede is, dus is daar meer as net ’n wesenlike kans dat ons kinders ten minste met die wegtrek van hul loopbane daar gaan beland.

Al bogenoemde redes maak dus die kapingverskynsel ’n werklikheid ook vir ons as inwoners.

Ka­ping is nie ’n gewone diefstal nie. Dit is wat dit so gevaarlik maak.

Jy as mens en/of bestuurder van die motor is noodsaaklik, want wat jy by jou het, is nodig om die motor se wiele te laat rol.

Dit het al hoe moeiliker geraak om motors te steel. Nuwe tegnologie slaag daarin om tot ’n groot mate ons motors teen diefstal te beskerm. Dus het die kriminele element jou nodig om die kaping te voltooi.

Onlangse navorsing het getoon dat daar ’n baie groter komponent van kapings is wat nooit deel raak van die statistiek nie, as wat ons besef… Landsbur-gers het gewoon hul vertroue in die toepassers van die reg verloor om die sake met sukses op te los.

Onmiddellik wonder jy seker wat dan van die versekering as jy nie aanmeld nie? Onthou dan dat 70% van alle voertuie op ons paaie onverseker is.

Gauteng bly die kapingsgedeelte van ons land. Byna drie keer meer voertuie word daar gekaap as in KwaZulu-Natal wat homself in die tweede plek bevind.

En ook in die wêreld van misdaad geld die ekonomiese beginsel van vraag en aanbod. Gau­teng is baie naby aan die kapers se “markte’’, naamlik die res van Afrika.

Daar word bereken dat net 36% van alle ge-kaapte motors weer hul weg na die Suid-Afri-kaanse paaie vind.
Die res word “uitgevoer’’ na Afrika waar ’n ryding ’n massiewe statussimbool is. Die “mark” is dus daar. Weens grootskeepse korrupsie kan die karre met vervalste dokumentasie in die sisteem verdwyn.

Die koste van kapings word op sowat R15miljard geraam en die syfer is baie konserwatief bere-ken, aangesien daar soveel kapings is wat nie aangemeld word nie.

Die menseverlies is natuurlik onberekenbaar en maak ongelukkig deel uit van die kapingsverskynsel.
Hoe beskerm jy jouself teen kapings?

Ons plattelanders is minder waaksaam wanneer ons die groot stede binne vaar. Die eerste reël is dus om waaksaam te wees. Te alle tye!

Elke stad het sy kapingsbrandpunte wat jy maklik met ’n Google-soektog kan opspoor.

Weet waar hul is en handel daarvolgens. Wanneer jy ’n robot of stopstraat nader moet jy altyd baie bewus wees van wat om jou aangaan, en as jy onveilig voel, ry net aan as die verkeer dit toelaat.

Laat plak jou motor se ruite met tint (jy kry verskeie skakering, en dit hoef nie noodwendig donker te wees nie). Dit verhinder dat ruite maklik breek. Deure moet altyd gesluit wees en waardevolle items uit die oog.
Tot ’n volgende keer…