TYDENS die onlangse Absa Vehicle and Asset Finance Golden Partner-toekenningsaand is Klein Karoo Toyota op Oudtshoorn nie net as ’n Franchise Golden Partner aangewys nie, maar ook as die algehele Franchise Dealer of the Year 2021!
Met dié toekenning word hulle as die “Top Nuwe Motorhandelaar” in die hele land en regoor alle handelsmerke bekroon. Anru de Wet, handelaarshoof van Klein Karoo Toyota, het die toekenning persoonlik in ontvangs geneem tydens ’n glansgeleentheid op Saterdag, 21 Mei 2022, in Johannesburg.
“Ons wil graag die hele span by Klein Karoo Toyota bedank vir die prestasie,” sê Anru. “’n Handelaar se sukses word deur vele aspekte bepaal en ons wil graag die kollig laat val op die belangrike steunpilare wat Klein Karoo Toyota se vlag so hoog laat wapper, naamlik ons verkoopspersoneel, diegene wat ons administrasie en finansies behartig asook ons diensafdeling. Sonder enigeen van hulle se toewyding sou Klein Karoo Toyota nie so suksesvol gewees het nie.”
“Opregte dank ook aan al ons kliënte vir hul lojale ondersteuning deur die jare, en aan Absa vir die finansiële vennootskap en, natuurlik, vir die toekenning.
Ons glo dat ons verhouding ná 30 jaar se Golden Partner-status, slegs van krag tot krag sal gaan,” sê Anru.
Anru en sy broer, Louis de Wet, is mede-eienaars en vennote van Klein Karoo Toyota. Anru en Louis se pa, Louis de Wet, het die deure van hierdie suksesvolle handelaarskap in 1973 geopen, en 43 jaar later, in 2016, die bestuur aan sy seuns oorgegee.
Klein Karoo Toyota het oor die jare heen al 30 Golden Partner en hierdie jaar se Franchise Dealer of the Year-toekenning van Absa ontvang.
Top-toekenning van Absa vir Klein Karoo Toyota!
