PROWORX op Oudtshoorn vier vanjaar hul sestiende bestaansjaar – een wat slegs deur harde werk, deursettingsvermoë en die handhawing van gehaltewerk bekom kon word.
Charl Meyer, eienaar en jarelange inwoner van die Grootvoëlparadys, vertel hy het besluit om die besigheid hier te vestig nadat hy weer hierheen verplaas is. Met sy bedanking uit die polisie het hy sy eie besigheid begin. Proworx spesialiseer nou in naamborde en so meer vir besighede, maar volgens Charl doen die maatskappy soveel meer, en het dit juis ontstaan uit ’n hele ander bedryf.
“Ek het baie daarna uitgesien om my eie ding te doen, en aanvanklik het ek begin om rekenaars reg te maak, maar ek het ook geweet dit sou nie volhoubaar wees om net rekenaars reg te maak nie. Ek was ook geïnteresseerd daarin om ‘powertools’ reg te maak, want ek het die nood daarvoor in die dorp gesien,” vertel Charl.
Charl wou nog verder diversifiseer, en daarmee is Proworx gebore nadat hy in 2007 klaar was met polisiewerk. Die besigheid is op drie bene gebou: rekenaarherstelwerk, die regmaak van kraggereedskap (“powertools”) en die ontwerp en vervaardiging van naamborde, of altans “signage”. Die laasgenoemde is waarvoor Proworx sy bekendheid op die dorp verwerf het.
Die belangstelling in die proses van naamborde ontwerp en te vervaardig het Charl reeds byna 16 jaar gelede getref. Uit vorige ondervinding met ander naambordbesighede wou hy sy eie besigheid so te sê van die grond af opbou.
“Dit was nogal ’n groot uitdaging om ’n splinternuwe besigheid van niks af op die been te bring. Daar was eers baie teenkanting, maar vandag is ons steeds hier!”
Van daardie beginpunt af, deur al die swaar tye, groei die besigheid steeds van krag tot krag.
“As nuwe besigheid was dit moeilik om mense te oorreed om ons toe te laat om hul naamborde te maak en ontwerp, maar met al die ondervinding wat ons nou het in die industrie is daar nie meer vrae oor ons kwaliteit en diens nie,” vertel hy met selfvertroue.
“By Proworx verstaan ons dat elke kliënt se behoeftes verskil en daarom is ons altyd aanpasbaar in enige situasie en by enige kliënt.
“Ek hou daarvan om ’n pad te stap met my kliënte en verhoudings met hulle op te bou – om die reis van hul besigheid van die begin af te sien en hoe dit groei is lonend. Soos ek altyd vir mense sê: ‘a business without a sign is a sign of no business’.”
- Sien die Proworx advertensie op hierdie bladsy om uit te vind hoe om hulle te kontak en hoe die span jou besigheid kan help.
