Karoo Lusern Slaghuis nr 1 in Wes-Kaap

Bo: Cornel Landman (eienaar) en Jean-Pierre du Plessis (Interne Rekenmeester) van Karoo Lusern Slaghuis, met die toekening vir beste slaghuis in die Wes-Kaap. Onder: Die Karoo Lusern span. Foto verskaf

KAROO Lusern Slaghuis, sowat 5 km buite Oudtshoorn is Saterdag (6 Mei 2023), aangewys as die topslaghuis in die Wes-Kaap.

Die Cleaver Award is ’n inisiatief wat deur die Red Meat Industry, in samewerking met die Red Meat Statutory Levy en South African Feedlot Association begin is, met die doel om die standaarde van landswye slaghuise te verhoog.

1 350 slaghuise van regoor Suid-Afrika is deur verbruikers genomineer.

Daarna deur middel van stemme, is die top 100 slaghuise geoudit en geïnspekteer.

Karoo Lusern is een van die slaghuise onder die top 50 in Suid-Afrika.

Cornel Landman en sy span is as die provinsiale wenner in die Wes-Kaap aangewys en ook as die wenner in die Platinum-kategorie vir 2022/2023.

Hierdie toekenning word aan slaghuise toegeken wat topgehalte vleis, goeie slaghuishigiëne, uitstekende kliëntediens en goeie waarde vir geld aan kliënt lewer.

“Ons is geëerd en verheug om so ’n provinsiale toekenning te ontvang! Ons is toegewyd daaraan om aan elke Karoo Lusern Slaghuis- kliënt topgehalte vleis en puik diens te lewer. Hierdie toekenning bewys dat ons harde werk en deursettingsvermoë nie ongesiens verbygaan nie. Dit moedig ons aan om ons standaarde nóg meer te lig en volgende jaar te streef na die nasionale toekenning. Ons wil ook vir elke getroue kliënt dankie sê. Sonder julle ondersteuning sou ons nie hierdie groot mylpaal kon bereik nie.,” het Landman aan Die Hoorn vertel

Hulle het sowat drie jaar gelede Karoo Lusern Slaghuis op die plaas begin, met die oog om vleis direk van die plaas aan die publiek te verskaf.

Daar is toe ook ’n skaap- en beesvoerkraal begin.

Landman bedank graag al hul getroue kliënte van Oudtshoorn, asook die Suid-Kaap, en selfs landwyd, wat hulle ondersteun.

Landman het ook spesiale lof uitgespreek vir sy bekwame span, asook sy vrou Hanri wat saam met hom die pad stap en harde werk insit, om so hierdie toekenning moontlik te maak.