’N NUWE entstof teen bloutong is pas bekendge-stel om in die dringende behoefte daaraan te voorsien.
Design Biologix, ’n diere-entstofvervaardiger van Pretoria, het pas die plaaslik relevante bloutong-entstof genaamd BLU-VAX aangekondig.
Die maatskappy bedien al die afgelope 29 jaar die veebedryf met entstowwe en ondersteunende produkte wat vir plaaslike toestande geld.
“In 2017 het ons ’n projek begin waar ons epidemiologiese studies gedoen het van die algemene serotipes vir Orbivirus wat bloutong by skape in Suid-Afrika veroorsaak,” het Karen Nel, hoof- uitvoerende beampte van Design Biologix Woensdagoggend in ’n mediaverklaring gesê.
Die entstof is geformuleer vir die aktiewe immunisering van gesonde skape teen bloutong. “Soos met enige nuwe produk is noukeurige voorbereiding noodsaaklik voor ’n bekendstelling.
Die produk sal beskikbaar wees om voor die volgende somerreënvalseisoen in te ent.”
Noodregistrasie: Design Biologix het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling bedank vir ondersteuning van die noodregistrasieproses om hulle in staat te stel om aan die dieregesondheidsektor van diens te wees en ’n beduidende rol te speel in die beheer van bloutong, wat ’n verwoestende, maar voorkombare siekte is.
Nel het ook almal in die bedryf wat betrokke was by die ontwikkeling van die entstof bedank.
Weens die noodregistrasieproses was die eva-luering van die entstof nie so omvattend as wat normaalweg met produkontwikkeling in Design Biologix gedoen sou word nie.
“Ons het ons egter daartoe verbind om voort te gaan met entstof-evaluering na registrasie sowel as epidemiologiese studies om voortdurend die omvang van die siekte in Suid-Afrika te evalueer.”
Tekorte veroorsaak krisis.
Die bekendstelling volg op ’n verklaring van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) verlede week dat die gebrek aan entstof wat deur die staat verskaf word die veebedryf in ’n krisis dompel.
“Kommersiële en opkomende produsente ly ernstige verliese weens bloutong-uitbrekings wat tot 50% vrektes onder kuddes veroorsaak, terwyl Afrika perdesiekte maai onder perde en donkies wat ’n ondersteunende rol in die produksieproses van rooivleis speel,” het James Faber, voorsitter van die RPO gesê.
Die RPO waarsku al geruime tyd dat ’n tekort aan die voorsiening van sekere entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese produkte (OBP) geproduseer word, ernstige afmetings kan aanneem. Die nuwe entstof word verwelkom: “Die bedryf is baie opgewonde oor die registrasie en sien uit na die bekendstelling en beskikbaarheid van die BLU-VAX!” sê Marzanne Roetz van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF).
Die NAHF, wat namens die vee- en diere- bedrywe by verskeie geleenthede die behoefte aan entstowwe uitgespel het, het ook oplossings voorgestel.
Een daarvan was dat meer as een diensverskaffer entstowwe produseer sodat risiko’s aangespreek en mededingendheid verseker word. (Deur Tisha Steyn)
Nuwe bloutong- entstof bekendgestel
Foto: Hoorn argief