Klein Karoo “glamping” – kamp met ’n verskil

Onder: AfriCamps se oulike meerkatte loer nuuskierig rond. Foto verskaf

Vir die afgelope agt jaar ontvang AfriCamps Klein Karoo, net buite Oudtshoorn op die Kango Grottepad talle toeriste, paartjies op ’n romantiese wegbreek, vakansiegangers, families en selfs hul viervoetige familielede, met die sjarme en gasvryheid soos net die Klein Karoo kan.

Die Hoorn het met Arnold de Jager, mede-eienaar van AfriCamps gesels.

AfriCamps word beskryf as “glamping”, dis kamp in ’n tent maar met ’n verskeidenheid luukshede soos kwaliteitlinne, lugversorging, ’n kaggel, braaigeriewe, alle eetgerei en ook die opsie om ’n ontbyt- en aandete-mandjie te bestel sonder om self voor die potte te swoeg en sweet.

Met die pragtige natuurskoon, ongelooflike uitsig oor die Swartberge en unieke toere, sal een aand beslis nie genoeg wees om alles te ervaar nie.

Van hierdie toere wat AfriCamps bied, is byvoorbeeld die meerkat- of ’n plaastoer, waar gaste kan leer en sien hoe ’n werkende volstruisplaas daagliks bewerk en bestuur word.

De Jager vertel dat sy gunsteling toer beslis die meerkattoer is, omdat die besige meerkatte hom aan sy twee seuns, Arnold jnr. (13) en Michael (11), laat dink.

“Hulle is lekker besig en stout, maar tog vreeslik oulik nes die meerkatte op die plaas,” skerts hy.
Daar is ook nie ’n tekort aan sterre met die mooi karoo nagte nie en sterrekyk is een van die toere wat ook bespreek kan word.

“Afgesien van die meerkatte is daar ook ’n verskeidenheid wild te sien soos Kudu’s, Elande en Springbokke,”

Vir De Jager lê AfriCamps hom baie na aan die hart omdat dit op familiegrond ontwikkel is en hul seuns baie betrokke is, veral oor naweke wanneer hulle graag help. “Dit is beslis vir my die hoogtepunt,”

Die plaas laat besoekers en gaste toe om asem te haal, en ontspan in die oop vlaktes en is die perfekte plek om regdeur die jaar te bespreek.

Wanneer dit warm is sorg die lugverkoeling en ’n lekker koue swembad dat gaste gemaklik is, en in die kouer maande, wanneer sneeu die Swartberg bedek met ’n wit mantel, is die kaggel en warmkomberse nie te versmaai nie.

AfriCamps het 17 verskille kampe regoor Suid-Afrika en wat hulle juis uniek maak is die feit dat al die tente binne van al die verskillende kampe dieselfde lyk.

“Gaste weet dus presies wat om te verwag, en dit verseker ’n hoë standaard verblyf,”
Daar is ook verskeie spesiale aanbiedinge op hulle webtuiste.

Gaan loer gerus na www.africamps.com of skakel 0825753863 en bespreek nou vir daai lekker wegbreeknaweek om jou siel weer te kom verfris tussen die berge, blou lug en selfs die klippe eg aan die Klein Karoo.