Christa’s Skoonheids- & Haarkliniek vier 40 jaar!

Bo: Christa Bower 40 jaar gelede met een van haar eerste kliënte. Onder: Die ma-en- dogterspan, Christa Bower en Christel Reid ’n paar jaar gelede: Foto’s verskaf

SEDERT Christa’s Skoonheid en Haarkliniek sy deure 40 jaar gelede in St Saviourstraat op Oudts­hoorn geopen het, het dié salon nie net ’n ikoniese naam in die dorp en staan dit bekend as ’n plek waar vroue van die dorp hulleself bederf nie, maar is dit ook ’n plek vir vriendinne om in ’n ontspanne atmosfeer bymekaar te kom.

Wyle Christa Bower het volgens haar dogter, Christel Reid, die salon as 21-jarige geopen – op die­selfde plek waar dit vandag nog is. “Sy het die gebou waar Christa’s is en die gebou langsaan gekoop, en toe het sy en my pa self die plek oorgedoen; soos om die vloere te skuur en die mure te verf. Dit was soos ’n labour of love – hulle was hul hele lewens lank saam,” het sy vertel.

Christa is in Augustus 2021 in die Mediclinic George oorlede nadat Covid-19 by haar gediagnoseer is.

Christel sê haar ma was ’n baie sterk mens en wanneer sy op iets besluit het, het sy dit met oorgawe aangepak. “Dit is iets van haar wat ek baie bewonder het!”

Volgens Christel was die hele salon daardie tyd pienk geverf. “My pa het destyds nog my oupa gebel en gesê: Kyk hoe mal is jou dogter, sy wil die hele plek pienk verf!” skerts Christel.

“Oupa het blykbaar gesê: “Laat sy net doen wat sy wil doen!”

Christa’s was volgens Christel die eerste skoonheidsalon op Oudtshoorn. “Daardie jare wou die koe­rant van daardie tyd nie eens die salon adverteer nie. Hulle het gedink dis ’n duistere ding.

Maar toe begin die tannies van die dorp uit nuus­kie­righeid kyk wat hier aangaan!”

Volgens Christel, self nou ’n ma van drie, het Chris­ta daardie jare haar kenmerkende rooi lipstif­fie gedra en het sy selfs al haar “toerusting” agter­op haar man se bakkie gelaai en na buurdorpe soos Calitzdorp gery om kliënte daar te laat mooi lyk. “Dit was om mense aan te moedig om na die salon toe te kom, en 40 jaar later is ons nog steeds hier.”

Christel glo dit is ’n bewys van haar ma se jarelange harde werk en deursettingsvermoë.
Oor die jare heen, onthou Christel wat basies in die salon grootgeword het, met heimwee, het Christa al die bruide in die omgewing mooigemaak, buiten al haar ander kliënte wat later meer soos vriendinne geword het. “Vandag, 40 jaar later, is ons nog steeds elke dag vol bespreek, Maandae tot Saterdae. Ek hoef my nooit te bekommer oor kliën­te nie, en dit is ook te danke aan my ma.”

Christel sê sy is dankbaar vir die geleentheid wat haar ma vir haar geskep het. “Sy het my alles ge­leer, en ek het ook by haar geleer hoe om suksesvol te wees. Die ander sukses van die salon is dat jy dadelik welkom voel wanneer jy hier instap. Jy word met liefde hanteer, en dit maak nie saak hoe besig ons is nie, ons probeer altyd vir iemand plek maak, al moet ons tot vanaand toe werk of môre-oggend vroeg begin.”

Christel sê sy is net soos haar ma baie lief vir hul kliënte. “Hulle raak meer soos vriendinne! Haar gunsteling-behandeling was die gesigsbehandeling (facials), om mense mooi te maak en ’n vrou goed oor haarself te laat voel! Mens kuier so lekker saam hier.”

In die toekoms wil Christel voortbou op wat Christa vermag het, sodat die salon in toekomstige generasies op die dorp sal bly. “Ek het nadat my ma oorlede is, gesê dat ek die salon net wil oophou tot dit minstens 40 jaar oud word, maar nou is al wat ek wil doen, net om seker te maak ons is elke dag vol bespreek en om beskikbaar te wees vir kliënte, en miskien vir nog 40 jaar aan te hou!”

Sy vertel dat die haarkapster Celinda Grundling en Judy Malan wat wimperverlengings (eyelash extensions) by die salon doen ook baie besig is.

Volgens Christel was dit vandat sy klein was haar ma se droom dat sy die salon eendag sou oorneem. “Alles wat ek doen, is om haar trots te maak. Einde verlede jaar het ek die salon oorgeverf en teruggegaan pienk toe! Ek wil haar nalatenskap behou, en ek kan net hoop sy is trots daarop.”

• Om die 40ste bestaansjaar te vier bied die sa­lon ’n gelukkige trekking aan. Die wenprys is ’n “mooimaaksessie”. Sien die advertensie heel links vir meer inligting.