HY is in die hof vir goed wat hy nie gedoen het nie.
So sê Marshall Wagenaar, verkeersbeampte van die Oudtshoorn Munisipaliteit, wat van korrupsie aangekla word.
Hy staan tereg op twee aanklagte van korrupsie nadat hy na bewering in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicholas Mulder, ontvang het vir die reël van vroeër datums om hul swaarmotorvoertuiglisensies te bekom.
Volgens Wagenaar het hy nie ’n sent van Nicholas Mulder gekry nie, maar het Johannes R6 500 aan hom oorhandig om hom te help.
Hy kon hom egter nie help nie en Mulder het sy geld teruggekry.
“Ek is ’n gemeenskapsmens en help mense waar ek kan. Ek wil eerlik wees met die hof,” het Wagenaar onder kruisverhoor op ’n vraag van die staatsaanklaer, Willem Vister, geantwoord.
Vister het dit aan Wagenaar gestel dat hy nie eerlik is met die hof nie en dat hy sy weergawe voortdurend aanpas.
Sy getuienis in die hof verskil ook volgens Vister hemelsbreed van sy polisieverklaring.
Volgens Wagenaar het sy vorige twee regsverteenwoordigers, adv Pieter van Wyk en Vaughn Shone, nooit sy instruksies uitgevoer nie en stel die staatsaanklaer “die verkeerde vrae” aan hom.
Geen korrupsie is volgens hom gepleeg nie.
Wagenaar het vertel dat hy saam met Johannes Mulder na die afdelingshoof by die Oudtshoorn verkeersdepartement, Reagan Carelse, gegaan het wat aan Mulder die proses verduidelik het: dat hy ’n verklaring by die polisie moes gaan aflê en redes verskaf vir ’n vroeër datum (vir die lisensie).
“Ek kan nie datums reël nie,” het Wagenaar getuig.
Volgens die aanklaer het Carelse egter nie so getuig nie. “U weergawe van wat tussen u, die klaer en Carelse gebeur het, is nie die waarheid nie,” het hy gesê.
Wagenaar het geweier om hierop kommentaar te lewer.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir verdere kruisondervraging van die beskuldigde tot 5 Mei uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)