Aangename Kennis

ONTMOET die nuutste Hoorn-spanlid – Geraldine Grimbeek. Geraldine het aan die begin van Maart by die span aangesluit om te kom help met administratiewe take en ook om te help met advertensies in die bemarkingsafdeling.

Sy is in 1985 in Graaff-Reinet gebore, en het daar groot geword en skoolgegaan. Na skool het Geraldine vir ’n ruk oorsee gegaan, en met haar terugkoms “Equine Sience” studeer.

Daarna het sy haar man, Edzard wat in die weermag is, ontmoet en die twee is verloof en in 2008 getroud. Dit is toe dat sy na Oudtshoorn getrek het.

Hulle het een dogter, Anika (10) wat in Laerskool Wesbank skoolgaan, en Geraldine het na die geboorte van haar dogtertjie besluit om onderwys te studeer. Sy en haar man het beide groen vingers en maak die mooiste tuine saam.

Geraldine hou ook baie van restourasieprojekte, wat vertrekke en meubels insluit, en dit is vir haar lekker om ou dinge weer mooi te maak.

Sy het ook ’n baie groot liefde vir perde en het in die verlede graag uithouritte gery. Tans het sy ’n perd wat gekruis is met ’n Appeloosa- en Arabierperd met die naam Kolle, wat haar lekker besig hou. Rekenaars en om webtuistes op die been bring, is ook een van Geraldine se talente en Die Hoorn gaan beslis hieruit voordeel trek. Haar hart is in die Karoo en daarom is sy baie lief vir die dorp en sy mense.

Kontak haar gerus vir enige advertensies, of administratiewe navrae.
Welkom by die Hoorn-span, Geraldine!