Bekende ANC-leier van hier sterf onverwags

Nella Philander (54).

Nella Philander (54).

’N BEKENDE ANC-leier van Oudtshoorn, Nella Philander (54), is verlede Donderdag (8 Junie) onverwags oorlede.

Jongilizwe Tyatya, sekretaris van die ANC Patrick Madikane tak op Oudtshoorn, het in ’n mediaverklaring hulde gebring aan Philander en haar beskryf as ’n toegewyde en hardwerkende ANC-leier. Volgens Tyatya was Philander ’n buitengewone ANC-aktivis en ’n ‘lojale diens-kneg van die mense”.

“Sy was ’n rewolusionêre held wat haar lewe gewy het aan die vryheidstryd en die ideaal van ’n beter lewe vir ons mense. Sy sal onthou word as ’n beginselvaste kader van die ANC.”

Ellen Prins, ANC-LP vir Oudtshoorn, het haar medelye uitgespreek met die naasbestaandes, vriende en kamerade van Philander. Sy het Philander beskryf as ’n ANC-veteraan en -staatmaker wat ’n onuitwisbare merk gemaak het op die organisasie waarvoor sy so lief was.

Volgens Prins het Philander vanaf 2011 tot 2015 op die ANC Suid-Kaap / Klein Karoo se streekbestuur gedien, en verskeie leierskapsposisies binne die ANC beklee. Sy was lid van die ANC Patrick Madikane-tak op Oudtshoorn en lid van die plaaslike ANC Vroueliga.

Die ANC hou vandag (Donderdag 15 Junie) om 18:00 ’n roudiens vir Philander in die Thusong Sentrum in Bongoletu.

Haar begrafnis is Saterdag om 10:00 by die huis in Swartstraat, Toekomsrus en 11:00 by die AGS Kerk.