ANC breek bande met DA in Kannaland Munisipaliteit

• Kannalanders weet nie van provinsiale ANC se besluit

Deur Liesel le Roux
DIE provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC in die Wes-Kaap het teen gisteroggend nog nie hulle besluit om die ANC se verhou­ding met die DA in Kannaland te beëindig met die burgemeester van Kannaland bespreek nie.

Die ANC en die DA in Kannaland werk sedert verlede jaar se plaaslike verkiesing saam, ondanks teenstand van die ANC en die DA se provinsiale en streekstrukture.

Sedert verlede jaar se algemene munisipale verkiesing het Icosa drie raadslede, die ANC twee en die DA ook twee.

Die burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry, se woord­voerder, Ian Avontuur, het gister gesê Barry neem kennis van mediaberigte oor die besluit van die PUK, maar verkies om nie in hierdie stadium kommentaar te lewer nie omdat die PUK nog nie die besluit met haar en die ANC in Kannaland bespreek het nie.

Faiez Jacobs, Wes-Kaapse ANC-sekretaris, het na verneem word op ’n nuuskonferensie in Kaapstad gesê die komitee het die naweek besluit dat die ANC in Kannaland se verhouding met die DA summier beëindig moet word.

ANC-lede en -ondersteuners van onder meer Zoar het einde Mei tydens ’n vergadering met die PUK dit duidelik gestel dat hulle nie wil hê die ANC-raadslede van Kannaland moet ’n koalisie met die drie Icosa-raadslede van Kannaland vorm nie.

Die mees algemene rede wat aangevoer is, was beweringe van korrupsie onder Icosa se leierskap en dat hulle nie inwoners se belange voorop stel nie.

Die vergadering is gereël weens die ontevredenheid van die ANC se provinsiale en streeksleierskap oor dié samewerking met die DA. Na wat betroubaar verneem word, wil die Wes-Kaapse leierskapstrukture hê Kannaland se twee ANC-raadslede moet ’n koalisie met Icosa vorm.

Barry en Phillipus Antonie, die onder-burgemeester, wat dissiplinêr deur die ANC verhoor word oor die samewerking met die DA, sien klaarblyklik nie kans vir samewerking met Icosa en sy leier, Jeffrey Donson, ’n voormalige burgemeester van Kannaland, nie.

Jaco Londt, leier van die DA se Oosstreek, het aan Die Hoorn gesê daar is nie ’n koalisie tussen die DA en die ANC nie, maar wel ’n plaaslike samewerkingsooreenkoms. “Die besluit om saam te werk, is suiwer op plaaslike vlak geneem en daarom glo ons dit moet daar aangespreek word.”

Londt sê dié plaaslike samewerking het weliswaar begin om Kannaland “om te draai”.
Dawid Kamfer, Icosa se Wes-Kaapse leier, is egter van mening die samewerking tussen die DA en die ANC is tot nadeel van Kannaland. Hy het die DA gekritiseer vir hul rol in Kannaland.

“Ek moet eerlik wees, dit gaan ’n moeilike proses wees om Kannaland weer op die been te bring.

“Die DA het seker gemaak dat hulle die ANC misbruik om Kannaland tot rommelstatus te beheer, en dit is jammer dat die gemeenskap daaronder moes lei. Maar ek glo ook dat Icosa met die vermoë en sterk leierskap van Jeffrey Donson Kannaland weer tot sy reg sal kom. Kom ons bid vir die gemeenskap van Kannaland dat hulle donker dae verby is.”