Burgemeester sê nee vir dié vullisstrooiers

Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, tel in Maart vanjaar vullis op in Rose Valley tydens ’n skoonmaakprojek van die munisipaliteit en ander rolspelers.  Foto verskaf

Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, tel in Maart vanjaar vullis op in Rose Valley tydens ’n skoonmaakprojek van die munisipaliteit en ander rolspelers.  Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
INWONERS van die Groter Oudts­hoorn wat voortaan vullis in strate en oop ruimtes gooi, gaan beboet word.

Die burgemeester, Colan Sylvester, sê dit is vir hom ’n bron van kommer dat Oudtshoorn se strate kort nadat dit skoongemaak is, weer vol vullis lê.

Hy het die hulp van inwoners gevra om die dorp se morsjorse uit te wys en dit by die munisipaliteit aan te meld.

“Ek wil inwoners se aandag daarop vestig dat dit nié die munisipaliteit is wat rommel rondstrooi nie, maar wel die inwoners.

“Inwoners betaal elke maand vir die verwydering van vullis en daarom is dit so noodsaaklik dat hulle hul vullis op die aangewese dae uitsit en nie in die parkies of die strate strooi nie.

“Ons kry nie genoegsame same­werking van inwoners nie. Ons omgewing is waar ons lewe. Help ons om u te help en kom ons hou ons dorp skoon,” het Sylvester gevra.

Die munisipaliteit het verlede Maandag (15 Mei) ’n bewustheids­veldtog begin in gebiede wat twee maande gelede deur die munisipaliteit, Afriforum en die Toerisme Transformasie Missie (TTM) saam met inwoners skoongemaak is, maar weer vol rommel lê.

Dié gebiede sluit Rose Valley, voorheen Riemvasmaak, in wat geleë is by die dorp se ingang vanaf De Rust wat gereeld vol rommel lê. Inwoners van Oudtshoorn, soos die sakeman Deon Bosman, het ook die afgelope maande skoonmaakinisia-tiewe in dié gebied geloods.

Sylvester sê die munisipaliteit wil graag inwoners ekologies opvoed en bemagtig.

“Daar is so baie op die spel as ons ons historiese erfenisse, menslike habitat en gesondheidsprobleme af­skeep. Uit ’n toerismeperspektief wil ons waarde toevoeg tot die gemeenskap.

“Dit is om hierdie redes dat ons die gemeenskappe wil begin bemagtig sodat ons kinders omgewingsbewus kan raak en dit dan oordra aan hulle kinders. Die gevaar is dat dit so maklik is om sekere gebiede te vergeet, en daarom doen ons ’n beroep op inwoners om te help om van hierdie veldtog ’n sukses te maak.”

Die voorsitter van Oudtshoorn en De Rust Toerisme, Billy Engelbrecht, het dié inisiatief van Sylvester die week verwelkom.

Verskeie besoekers aan Oudts­hoorn het die afgelope tyd gekla oor rommel by die ingang na die dorp vanaf De Rust asook op ander oop ruimtes. Lesers van Die Burger het ook in die koerant se briewekolomme daaroor gekla.

“Ons ondersteun die munisipaliteit in hierdie edele gebaar om ons dorp mooi skoon te hou vir beide die inwoners en besoekers,” het Engelbrecht gesê.

• Die munisipaliteit se afdeling Gemeenskapsdienste het ’n tydelike klagte-eenheid op die been gebring en alle klagtes oor onwettige storting op oop ruimtes of oop erwe kan aan Melissa Arries deurgegee word na melissa@oudtmun.gov.za of skakel 044 203 3988.