
Die leerders van Zeekoegat Primêr by agter van links Linda Pretorius (opvoeder),Noluthando Mwati (onder-burgemeester), Reginald Smit (direkteur korporatiewe dienste), Kenny Powrie (opvoeder) , en burgemeester Colan Sylvester. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE graad vyf- en ses-leerders van Zeekoegat Primêre Skool het verlede Donderdag (18 Mei) ’n leersame uitstappie na die burgemeester van Oudtshoorn onderneem.
Zeekoegat Primêr is ’n landelike skool net buite Oudtshoorn en dié uitstappie was volgens die opvoeders wat hulle vergesel het, ’n hoogtepunt in hul skoolloopbaan.
Die burgemeester, Colan Sylvester, asook die onder-burgemeester, Noluthando Mwati, het die leerders in die raadsaal verwelkom, waarna Sylvester en Reginald Smit (direkteur korporatiewe dienste) die leerders ingelig het oor die verantwoordelikhede asook die pligte van die munisipaliteit.
Kenny Powrie, ’n opvoeder by Zeekoegat Primêr, sê dat dit ’n belewenis was vir die groep plattelandse leerders om hulle op die raadsaal se rooi stoele tuis te kon maak.
“Die leersame ontmoeting en blootstelling was baie waardevol vir die leerders.
“Die leerders het gesê hulle wil baie graag almal wat betrokke was by die reëlings van hierdie uitsonderlike uitstappie na die munisipaliteit en die burgemeester baie hartlik bedank.”