
Oudtshoorn Landdroshof.
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n dokter verbonde aan die Infanterieskool op Oudtshoorn, wat daarvan aangekla word dat hy twee jong vroulike rekrute seksueel aangerand het, is na die getuienis van die twee vroue vir verdere verhoor in die Oudtshoorn Streekhof tot Juniemaand uitgestel.
Denzil King (35) van die Paarl wat sedert Februarie 2016 in die siekeboeg van die Infanterieskool werk, het na bewering by drie geleenthede die twee vroue in sy spreekkamer betas nadat hy die deure gesluit het. Hy pleit onskuldig.
Die saak is deur streeklandros Daniel Boks vir voortsetting van die verhoor uitgestel tot 13 Junie 2017 na die getuienis, in camera, van die twee klaagsters.
Die beskuldigde se borgtog van R5 000 en borgvoorwaardes is verleng. Hy mag onder andere nie vroulike pasiënte van die Infanterieskool behandel nie en ook nie die dorp verlaat sonder die kennisname van die ondersoekbeampte nie.
Elaine Plaatjies verskyn in die saak vir die staat en adv Benito Metembo in opdrag van Avontuur en Genote vir die beskuldigde.