VYF mans wat daarvan aangekla word dat hulle twee keer by ’n geskenkwinkel op Oudtshoorn ingebreek én duur volstruisleerhandsakke gesteel het, het verlede Vrydag vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.
Die vyf verdagtes, Chad Topley (26), Shanton Carelse (32), Soheil Hufke (27), Johnathan Manuel (38) en Busisiwa Hanse (23) – almal van Oudtshoorn, staan tereg op twee klagtes van huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Hulle word aangekla dat hulle op 18 Januarie 2017 en weer op 26 Januarie 2017 by Queen Zebra in Baron van Reedestraat ingebreek en handsakke gesteel het.
Hulle het na bewering met die eerste inbraak ’n rooi volstruisleerhandsak ter waarde van R10 900 en vier ander handsakke, ter waarde van R112 000, gesteel, en die tweede keer vyf handsakke ter waarde van R25 510.
Die staatsaanklaer, Van Premchand, het aangedui dat die staat die toestaan van borgtog sal opponeer.
Hy het die hof versoek om die saak vir borgprofiele van die vyf mans uit te stel.
Landdros Lorraine Samuels het die saak tot Vrydag 3 Februarie uitgestel.