DIE Ladismith Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 25-jarige Franse toeris Vrydag in ’n botsing op die R62 tussen Ladismith en Barrydale gesterf het.
Sy is geïdentifiseer as Louisa Genissel.
’n Belgiese passasier is deur die nooddiens-helikopter na die George Hospitaal geneem vir behandeling.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die botsing omstreeks 15:30 sowat 35 km buite Ladismith plaasgevind.
“Die sektorbestuurder van die landelike gebied, ao Bothma, was besig met patrollies op die R62 toe hy op ’n klomp voertuie afgekom het wat langs die pad geparkeer was en ’n silwer Kia Picanto wat op sy dak gelê het.
“Die Kia Picanto was na bewering op pad na Oudtshoorn toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het en dit die pad verlaat en omgekeer het.”