Houtpale op die R5-skietbaan by die Oudtshoorn Polisiekollege staan in ligte laaie. Die binne-kant van die baan wat laer geleë is, het ook afgebrand. Foto’s: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DAAR hang ’n vraagteken oor die oorsaak van ’n brand wat Maandagaand die R5-skietbaan by die Oudtshoorn Polisiekollege in vlamme laat opgaan het.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie het ’n navraag-dossier oor die brand geopen, maar dat die oorsaak van die brand nog onbekend is.
Die brand het ontstaan terwyl van die studente Maandagaand met ’n nagskietoefening op die skietbaan besig was. Tydens die skietoefening het die gras of houtwerk binne die baan vermoedelik begin brand waarna’n rukwind die vlamme aangejaag het sodat al die teerpale en ander houtwerk op die skietbaan gou in ligte laaie gestaan het.
Die Brandweer was op die toneel om te verhinder dat die vlamme verder versprei.
Die SA Weerdiens het oor die naweek teen bergwindtoestande en ’n gepaardgaande brandgevaar vir Maandag op Oudtshoorn gewaarsku.
Die bevelvoerder van die Polisiekollege, kol Ratsela Tala, was nie Dinsdag vir kommentaar beskikbaar nie. Die Hoorn is versoek om ’n kontaknommer vir hom te laat sodat hy kan terugskakel en navrae kan beantwoord en kan reageer op verskeie bespiegelings op die dorp, maar geen reaksie is van hom ontvang nie.
Van die vrae wat Die Hoorn graag aan kol Tala sou wou rig vir duidelikheid, was of die onderhoud van die baan volgens voorgeskrewe regulasies gedoen was en ook of die soort wapentuig wat tydens die skietoefening gebruik is, nie daartoe aanleiding kon gegee het dat droë gras of die houtwerk in die skietbaan kon ontvlam nie.
Die Hoorn het vertroulik verneem dat brandweerpersoneel wat Dinsdag die toneel van die brand wou besoek, nie daar toegelaat is nie.