Hans van der Veen (60) het sy loopbaan as Hoof van Sielkunde, by die Health Centre South Coast (HCSC) Oudtshoorn Siekeboeg, by die South African Military Health Service (SAMHS) na 13 jaar daar klaargemaak deur Vrydag 30 Januarie amptelik af te tree.
Gelukkig is dit nie die einde van sy sielkundeloopbaan nie, en pasiënte kan hom sedert gister (Donderdag) by Easy Care in Voortrekkerweg vind.
Hans is nie net bekend in fietsrykringe nie, waar hy gereeld aan lang, uitmergelende fietsrenne deelneem, soos die Attakwas, wat hy in Januarie voltooi het, selfs al het hy ’n redelike ernstige val gehad sowat halfpad deur die ren.
Hy is ook sedert 2011 die amptelike fotograaf van die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees), maar is ook ’n nie-uitvoerende direkteur asook ’n stigterslid van die KKNK.
Hans kan gereeld opgemerk word waar hy van vertoning na vertoning stap met sy kamera in die hand, sorgvuldig daarop ingestel om elke foto op sy “shot list” af te neem. Hy neem al sedert 1996 foto’s.
Hans was ’n kranige atleet op sy jong dae. Sy 0.17 seun 1500 m SA rekord staan steeds.
Hy is ook op die bestuur van OSI (Oudtshoorn Sport Inisiatief) wat nie net ’n platvorm skep vir die verskeie sportklubs in en om Oudtshoorn nie, maar ook die dorp bemark as ’n voorkeur sportmekka vir verskeie sportgeleenthede.
Hans is ook deel van die KKAF (Klein Karoo Atletiekfonds), wat jaarliks die Eden-straatmylreeks aanbied in Oudtshoorn, Hartenbos en George. Hulle bied ook die gewilde sake-aflos aan elke jaar wat vir groot pret sorg.
Hy is ook deel van die Oudtshoorn Besigheidskamer se bestuur.
Die man kan beslis nie stil sit nie – en dit was juis vir hom ’n skok toe hy in 2018 met bloedstolling gediagnoseer is. Hy en sy wederhelfte, Lindie, ’n onderwyser by Hoërskool Oudtshoorn het toe die besluit gemaak om vegan, ’n plant- gebaseerde dieet te volg.
“As ek genooi word vir koffie en die gasheer het net gewone melk, sal ek dit steeds drink en beskuit eet, al is dit nie plantaardig nie,” skerts hy.
Hans betree nou die volgende hoofstuk van sy loopbaan, en hy is lank nie klaar met fotografie, fietsry en by die gemeenskap betrokke wees nie. (ANGELIQUE ERASMUS)
Volgende hoofstuk wink vir Hans van der Veen
Hans van der Veen agter die Feeskamer gekiek tydens 2021 se KKNK.
Foto: Angelique Erasmus