Uit die hof: Loff gevonnis vir altesaam 30 jaar

Generiese foto

Die 22-jarige Navin Loff is gister in die Oudtshoorn streekhof tot ’n effektiewe twintig jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan menseroof, verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer van ’n 18-jarige vrou saam met wie hy grootgeword het.

Die voorval het op die aand van 29 Junie 2024 in Bridgton plaasgevind. Loff het die vrou van ’n kuierplek in Zebraweg na ’n nabygeleë kerk toe getrek, waar hy haar oor ’n muur gegooi en twee keer verkrag het. Hy het haar ook op die maag geskop en geklap, wat tot ernstige beserings gelei het.

Loff se regsverteenwoordiger, Lourens Swa-nepoel, het die hof versoek om af te wyk van die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf vir die dubbele verkragting. Hy het aangevoer dat Loff nog jonk is en reeds geruime tyd in aanhou-ding verkeer. Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter beswaar gemaak en daarop gewys dat Loff geen berou toon nie en nie ’n eerste oortreder is nie.

Streeklanddros Daniel Boks het by die vonnis-oplegging gesê die hof moet ’n duidelike boodskap aan die gemeenskap stuur en nie ligtelik van voorgeskrewe vonnisse afwyk nie. Hy het egter ook in ag geneem dat ’n lewenslange vonnis vir ’n jong persoon skokkend sal wees.

Loff is gevonnis tot vyf jaar vir menseroof, twintig jaar vir verkragting en vyf jaar vir ernstige aanranding. Die vonnisse vir menseroof en aanranding kan gelyklopend met die verkragtingsvonnis uitgedien word, wat ’n effektiewe vonnis van twintig jaar tot gevolg het. Verder is Loff onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (GARNETT WICOMB)