
Deur Angelique Erasmus
DIE 18-jarige Francois van der Bergh van Oudtshoorn het Dinsdag in die streekhof skuld beken op vier aanklagte – aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van gevaarlike wapens, opsetlike saakbeskadiging en roof met verswarende omstandighede.
Hy is in die hof deur sy ma en stiefma bygestaan.
Van der Bergh se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het ’n verklaring van Van der Bergh in die hof voorgelees.
Die tiener het landdros JC Nortjé tydens die verrigtinge in die oë gekyk en verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar.
Die aanklagte teen Van der Bergh spruit uit twee voorvalle, die eerste toe hy 17 jaar oud was en die tweede in Junie vanjaar. Hy het na bewering ’n man met ’n mes gesteek en nog ’n ander man met ’n skêr gesteek en van sy selfoon beroof.
Mediese verslae van die twee voorvalle is in die hof voorgelees.
Van der Bergh was onder toesig van sy pa en stiefma toe die tweede voorval plaasgevind het, omdat sy ma in daardie stadium skofte gewerk het en nie permanent toesig oor haar seun kon hou nie.
Die seun se ma het na afloop van die verrigtinge hom vlugtig ’n drukkie gegee en ’n deursigtige kosblik met broodjies vir hom gegee. Hy het die broodjies onmiddellik verslind het toe hy teruggelei is na die selle.
Van der Bergh was tydens Dinsdag se hofverskyning netjies geklee in ’n swart broek en toeknoophemp, met sy hare kort geskeer. Daar was geen teken van oorbelle of ander juwele soos met sy vorige verkyning nie.
Die saak teen hom is uitgestel tot 12 Desember, waarna vonnisverslae aan die hof voorgelê sal word.