Straatkinders val toergids aan en verskrik toeriste

Museum

‘N TOERGIDS wat vanmiddag die CP Nel Museum met ‘n groep Israelse toeriste besoek het, het ‘n noue ontkoming gehad toe ‘n straatkind twee keer met ‘n mes op hom afgestorm het.

Die kind was een van ‘n groep straatkinders wat kort na die voorval deur die polisie vasgetrek is.

Die toergids, Don Mclennan sê dit het omstreeks 14:30 gebeur net nadat hy en sy toergroep van 36 toeriste die museum verlaat het en in hul bus in Baron van Reedestraat wou klim. Hy het ‘n groep straatkinders weggejaag wat die toeriste gepla het en wat in die bus begin klim het, toe een van die kinders met ‘n mes op hom afgestorm het.

“‘n Kind het twee keer met ‘n mes op my afgestorm. Ek kon hom elke keer keer. Hy het ook gesê hy sal my doodmaak en my skiet.”

Mclennan kon die kinders uit die bus verjaag en die verskrikte toeriste na die Safari Volstruisplaas neem.

Die voorsitter van Oudtshoorn Toerisme, Billy Engelbrecht, het hom later na die polisiekantoor vergesel waar hy ‘n klag ingedien het.

Volgens Mclennan was die kinders wat hom gedreig het en probeer aanval het, onder die groep wat vasgetrek is en kon hy hulle uitken.
(Berig deur Liesel le Roux)