Bo: Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester (heel links), gister by die NA Smit Swembad, by van links Dave van der Walt (Eden Biathlon), Corne Botha (Jakhals Events) en Reginald Smit (waarnemende munisipale bestuurder). Foto verskaf
Onder: Die verwoeste sinkafdak by die NA Smit Swembad. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE NA Smit Swembad sal Saterdag gereed wees vir ’n groot swemgala wat op die dorp plaasvind.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het gister so gereageer op ’n navraag van Die Hoorn nadat ’n stormwind wat Oudtshoorn Sondag getref het, ’n sinkafdak by die swembad verwoes het en ’n skadunet-afdak van ’n ander paviljoen uitmekaar geskeur het.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, word herstelwerk by die swembad tans gedoen.
“Ons vervang tans ’n klep wat ingegee het en doen ook ander kleiner opgraderingswerk.
“Die skadunet wat beskadig is, sal voor Saterdag verwyder word.”
Volgens Mangqwengqwe is die kwaliteit van die swembad se water tans uitstekend.
Teen Maandag was daar kommer op Oudtshoorn dat die swembad dalk nie Saterdag gereed sal wees vir die Eden Long Course Senior League Gala wat op die dorp moet plaasvind nie.
Behalwe vir die windverwoesting is die swembad klaarblyklik ook voortydig vol water gemaak voordat die klep herstel is.
Dit het glo veroorsaak dat die pompkamer Maandag onder water was en water daar uitgepomp moes word.
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, wat Woensdag weer op kantoor was nadat hy enkele weke lank met spesiale verlof was, het gister die swembad saam met die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, besoek om te kyk hoe die herstel- en opgraderingswerk vorder.
Twee plaaslike sportadministrateurs van Oudtshoorn, Dave van der Walt van Eden Biathlon en Corne Botha van Jakhals Events was ook by die swembad om hulle op hoogte te bring van die situasie daar voor die naweek se gala.
• Nog verskeie groot swemgalas vind vanjaar in die NA Smit Swembad plaas – op 19 Oktober, 26 Oktober (Eden Biathlon-proewe), 1 tot 3 November (Freda Barnard-gala), 16 November, en van 6 tot 7 Desember (Eden Kampioenskap).