‘Soos ’n Armageddon-rolprent’

Slagoffer van vlamme, die woonhuis van Johan en Judy-Marié van Noordwyk ses dae nadat hulle op 30 Mei met hul kinders en honde van Oudtshoorn na Knysna verhuis het.                                                                                                                                                Foto verskaf

Slagoffer van vlamme, die woonhuis van Johan en Judy-Marié van Noordwyk ses dae nadat hulle op 30 Mei met hul kinders en honde van Oudtshoorn na Knysna verhuis het. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
SES dae nadat die Van Noordwyk-gesin van ­Oudtshoorn hul wortels na Knysna verskuif het, was hul huis een van die talle wat verlede Woensdag tot op die grond afgebrand het.
“Dit was soos ’n Armageddon-rolprent,” sê Johan van Noordwyk wanneer hy oor die verwoesting van Knysna verlede week praat.

Van Noordwyk en sy vrou, Judy-Marié, hul twee kinders, Emma (4) en Douw (2), en hul drie honde moes Woensdagmiddag uit hul huis vlug voor die vlamme en rook wat die dorp stuk-stuk verteer het.
Die Van Noordwyks het op Dinsdag, 30 Mei, na Knysna verhuis nadat hulle nege jaar op Oudts-hoorn gewoon het. Ses dae later, op 7 Junie, het hul nuwe woonplek in Ridge Drive in Paradise – ’n huis wat hulle maande lank gerestoureer en verbeter het – afgebrand.

Hy het teen verlede Woensdagmiddag besef hul huis gaan waarskynlik afbrand, sê Van Noordwyk. “Die wind het verskriklik gewaai. Eers was die brande ver by Rheenendal, maar die rook het al hoe nader gekom. Ons was baie onseker wat om te doen.”

Toe hul au pair se pa haar egter laatmidag kom haal, het hy hulle ingelig dat hul woonbuurt ont-ruim gaan word. Die gesin het vinnig ’n paar tasse gepak en is – soos baie ander van Knysna se inwoners wat hul huise moes ontruim – na die Waterfront toe. Daar was hulle gelukkig om ’n kamer vir die nag in die Protea Hotel te kry.

Van Noordwyk sê die situasie was onwerklik én vreesaanjaend. “Die foyer van die hotel was vol mense wat uit hul huise gevlug het. Oral oor die dorp was vlamme en rook. Ons het gehoor hoe gasbottels van die hitte ontplof. Dit het gevoel of ons in Sirië was.”

Hy sê tydens ’n slapelose nag het hulle later aanvaar dat hul huis afgebrand het.
Die volgende oggend vroeg het hy gery om te kyk wat met die Montesssori Skool en hul huis gebeur het. Die skool was belangrik, want dit was die rede waarom hulle besluit het om na Knysna te trek.
“Die oggend toe die son opkom, was daar op baie plekke niks oor nie. Ons straat was verwoes.
“Dit was ’n vreemde gevoel. Ons was so opgewonde om daar in te trek sodat ons kinders na die Montessori Skool op Knysna kon gaan. En ons het so baie opgegee om Oudtshoorn daarvoor te verlaat.”
Die skool het egter nie afgebrand en was nog veilig, iets waaroor hulle baie dankbaar is.
En dan was daar die ondersteuning van die mense van Oudtshoorn in hul nood.

Danksy ’n uitnodiging van vriende van Oudts­hoorn het hulle Donderdag tydelik na hul ou tuisdorp teruggekeer totdat die brande langs die Tuinroete onder beheer gebring is.

“Om ná Woensdag se ervaring op ’n plaas buite Oudtshoorn te kon kom bly, was vir ons kinders die beste ding wat met hulle kon gebeur het. ’n Mens moet jou kinders heel en ongeskonde deur so ’n ervaring kry sodat hulle nie getraumatiseer word nie.”

Die Van Noordwyks soek tans ’n blyplek op Knysna of omgewing om te huur, sodat hulle kinders in Julie kan terugkeer skool toe.

“Ons beplan om ons huis op Knysna so gou as moontlik te herbou.”