Skok oor man se liggaam langs huis

Claudia Lucas, vrou van Jan Lucas, wys aan Die Hoorn waar haar man gevind is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE lewelose liggaam van ’n 45-jarige man van Oudtshoorn is verlede Donderdagoggend (21 Februarie) omstreeks 06:05 deur een van sy seuns ontdek waar dit langs hul huis se stoep in Nora Pottstraat, Bongolethu gelê het.

Jan Lucas se gesig was volgens sy vrou, Claudia, erg geskend. “Daar was bloed op die grond. Die vel aan sy kop het ’n sny gehad, sy linkeroor het gelyk of dit afgesny was, asook sy neus en ’n gedeelte van sy lippe was weg. Sy linkeroog en tong was ook uit,” sê Claudia, ’n verpleegster by ’n hospitaal op George.

Volgens sers Gretchen Michaels van die Oudtshoorn Polisie het die polisie ’n nadoodse dossier geopen. Claudia sê egter die polisie het haar ingelig dat ’n lykskouing Vrydag getoon het haar man is aan natuurlike oorsake dood.

“Die ondersoekbeampte het aan ons gesê dat die rotte aan hom gevreet het, en dis waarom dele van sy gesig weg was.”

Sy sê sy het geen bytmerke opgemerk nie.

Claudia sê sy het die vorige aand omstreeks 23:45 gaan slaap. Haar man was toe nog nie by die huis nie. Sy het die volgende oggend vir haar seuns gevra om te kyk of hulle hom buite sien, waarna hulle huilend die huis ingekom het.

Volgens haar is hy deur ambulanspersoneel op die toneel dood verklaar, waarna die polisie en forensiese personeel gekontak is.

Sy sê Lucas se familie sou graag ’n tweede nadoodse ondersoek en opi­nie wou hê, maar dat hulle dit nie kan bekostig nie.

Lucas word Saterdag om 12:00 van­uit die Bridgton Congregational Kerk begrawe. Daar sal om 11:00 by Nora Pottstraat 2337 bymekaar gekom word.

Hy laat vyf kinders en vier kleinkinders agter.