‘Van agter, met ’n mes in sy een hand, om die nek gegryp’
Deur Garnett Wicomb
’N 28-JARIGE man wat ’n pensioentrekker beroof het van geld wat hy vroeër die dag geleen het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof sewe jaar tronkstraf opgelê.
Ronaldo Rhode is daaraan skuldig bevind dat hy Aubrey Claassen (66) van meer as R600 beroof het.
Claassen het die geld vroeër die dag by ’n onderneming in St Johnstraat geleen.
Rhode het onskuldig gepleit op die klagte teen hom.
Hy het aangevoer dat hy net die R300 wat Claassen hom vir twee kassetspelers geskuld het, uit sy broeksak gehaal het.
Hy het ook ontken dat hy ’n mes teen Claassen se nek gedruk het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Rhode se weergawe te verwerp omdat hy dit aanpas.
Claassen se vrou, Katrina, het getuig dat Rhode uit die dorp saam met hulle gestap het.
Toe hulle in Kameelweg in Bridgton kom, het hy haar man van agter, met ’n mes in sy een hand, om die nek gegryp, die geld uit sy broeksak gehaal en weggehardloop.
Haar getuienis is deur haar dogter, Christina Pretorius, gestaaf.
Sy het ook Rhode se weergawe dat hulle saam gedrink het terwyl hulle by ’n bushalte in Poplarstraat gesit het, as leuens afgemaak.
Streeklanddros Retha Pretorius het Rhode skuldig bevind soos aangekla en hom tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.