Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn-raad het tydens die voortsetting van sy maandelikse raadsvergadering verlede Donderdag eenparig besluit om voort te gaan met die Blossoms-waterpypleiding na Oudtshoorn, afhangend van ’n waarborg van die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering vir ’n verdere R20miljoen wat daarvoor benodig word.
Die raad het reeds R30miljoen vir droogteverligting van Nasionale Tesourie ontvang en die groen lig gekry om dit vir Fase 1 van die projek aan te wend. Dit sluit die opstel van planne, betaling van professionele fooie en die aankoop van die nodige materiaal, soos die pype, in.
Volgens die munisipale bestuurder, Allen Paulse, is toestemming verkry om die R30miljoen vir die pypleiding te gebruik indien die munisipaliteit die waarborg van ’n verdere R20 miljoen kan kry. Die R30 miljoen moet volgens Paulse teen einde Maart 2019 bestee word.
Fase 2 wat in Julie 2019 moet afskop, behels die lê van ’n onder-grondse 315 mm-pyp vanaf die sterk- ste boorgat by Blossoms tot by die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) naby Bakenskraal en die Oudtshoorn-water- pypnetwerk op die hoek van Rademeyerstraat en Langenhovenweg.
Fase 3 behels die verbinding van twee bykomende boorgate by Blossoms met die pypleiding en die verlenging daarvan na die Oosbank-reservoir op Oudtshoorn.
• Hoewel die raadsvergadering sonder haakplekke verloop het, was daar gemeenskapslede in die openbare galery wat veral tydens koukusse in woordewisselings met raadslede betrokke geraak het. Dit was egter nie die vroue wat die vorige raadsverga-dering op 30 November ontwrig het nie. Die speaker, Julia le Roux, het by meer as een geleentheid buite die raadsaal na hul klagtes geluister.