Polisie trek 2 mans vas

• Voertuigdiefstal op Oudtshoorn

Van die gereedskap wat gebruik kan word om by huise in te breek en voertuie te steel waarop die polisie in ‘n Volkswagen Polo in King William’s Town beslag gelê het. Foto verskaf

GEREEDSKAP wat gebruik kan word om by huise in te breek en voer-tuie te steel asook klapmusse (balaclavas) en motorsleutels is in die voertuig gevind waarmee verdagtes in Dinsdag se voertuigdiefstalsake uit Oudtshoorn gevlug het.

Volgens kapt Siphokazi Mawisa, woordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, is twee mans Woensdag omstreeks 11:00 naby die taxistaanplek in King William’s Town in hegtenis geneem.

Die twee mans het Maandag in die King William’s Town Landdroshof verskyn.

“Die polisie het in die vroeë oggendure inligting ontvang oor ’n Isuzu-bakkie wat in Oudtshoorn gesteel is asook dat die verdagtes met ’n gehuurde Polo Vivo op pad is na Umtata.”

Die polisie het die Polo in die middedorp gestop en die gereedskap in die motor gevind.

Die bakkie, wat aan Louis Alberts van Jan van Riebeeckweg, Oudts-hoorn behoort, is gevind nadat dit op die N2 tussen Peddie en King William’s Town teen ’n krans vasgejaag het. Die bestuurder het daarin geslaag om te vlug voordat die polisie op die toneel was. Hulle het die omgewing gefynkam, maar kon nie die bestuurder vind nie.

Die waarnemende bevelvoerder van die King William’s Town Cluster, kol Nomvuyo Mrwebi, het die polisie bedank vir hul flinke optrede asook lede van die gemeenskap wat inligting aan die polisie deurgegee het.