Volstruisvere uit Oudtshoorn vir Kimberley se flamink-kuikens! Sebastiaan Meyer (bemarkingsbestuurder vere by Klein Karoo International) en werknemers van die afdeling waar die vere gekleur word. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
PIENK volstruisvere uit Oudtshoorn gaan binnekort help in die versorging van die kleinflamink-kuikens wat gered is by die Kamfersdam noord van Kimberley.
Volgens Sebastiaan Meyer, bemarkingsbestuurder vere by Klein Karoo International (KKI) het hulle ’n versoek vir volstruisvere ontvang van die projek wat die redding van die kuikens bestuur. KKI gaan 16 kg vere skenk en is tans besig om dié vere spesiaal pienk te kleur.
Volgens die bekende sekuriteitspesialis Mike Bolhuis wat die projek geïnisieer het, word sowat 2500 kleinflamink-kuikens tans by sowat 10 sorgsentrums dwarsoor die land gehuisves en 24 uur van die dag deur vrywilligers versorg. Dié kuikens se lewens is bedreig toe die volwasse broeipare hulle verlaat het nadat die water in die dam opgedroog het.
Bolhuis sê die kuikens word in voerkraaltjies aangehou en daar word sover moontlik gepoog om omstandighede so natuurlik moontlik vir hulle te hou sodat hulle weer in die natuur geïntegreer kan word.
Die volstruisvere sal saam met sagte speelgoed soos teddiebere en verestoffers in die voerkraaltjies geplaas word, as ’t ware as ’n plaasvervanger vir hul ouers waarmee hulle onder normale omstandighede die eerste ses tot agt weke van hul lewens in aanraking sou wees.
Hulle word gevoer met lang pienk kouse wat soos hul ouers lyk sodat hulle nie gewoond raak aan die mense wat hul help nie.
“Al die sentrums waar die kuikens versorg word, volg dieselfde protokol en streng voorwaardes,” sê Bolhuis.
Volgens hom is hierdie die grootste reddingspoging van sy soort in die geskiedenis en is so iets nog nooit tevore op so ’n skaal gedoen nie.
“Ek beskou dit as dieremishandeling en hou die munisipaliteit, myne en CapeNature verantwoordelik dat hulle toegelaat het dat dit gebeur.”
Hy het die media en die publiek bedank wat die projek ondersteun en blootstelling daaraan gee.
• Die kleinflamink word beskou as ’n spesie kwesbaar vir bedreiging.